Local newsNews

Medelye stroom in na EG Jansen-matrikulant sterf

Sy word beskryf as 'n lieflike mens wat nooit geskroom het om ander te help nie

“Die voetspore wat jy agterlaat is dieper en mooier as wat jy ooit sou dink.”

Só sê die familie van Jonika Deysel, ’n matrikulant van Hoërskool Dr EG Jansen wat skielik op 22 Januarie oorlede is.
Sy sou op 15 Februarie haar matriekjaar begin het.

Jonika was op 19 Januarie in die hospitaal opgeneem en die volgende oggend het sy ’n blindederm-operasie ondergaan. Sy sou die Saterdagoggend ontslaan word, maar Vrydagaand het haar toestand skielik versleg.

Ten spyte van die dokters se pogings om haar lewe te red, is sy daardie aand oorlede.

’n Familielid, wat verkies om anoniem te bly om die privaatheid van haar familie te beskerm, het Jonika as ’n opregte mens met vaste beginsels en waardes beskryf.

“Haar naam beteken ‘God is gracious’, want dis wat sy was, gracious.

“Jonika het altyd gehelp waar sy kan, al beteken dit sy moet opofferings maak. Haar lag was aansteeklik en haar drukkies vrygewig. Sy was gemotiveerd om goed te doen in alles wat sy aanpak. Sy het altyd ekstra ingesit om haar doelwitte te bereik,” het sy names Jonika se familie gesê.

Sy het vertel dat dit Jonika se droom was om onderwys te gaan studeer.

“Jonika wou spesialiseer in kinders met spesiale behoeftes en gestremdhede. Dié drang het sterker geword nadat sy vir ’n klein rukkie by Little Rascals vrywillige werk gaan doen het.

“Jonika was die mooiste mens met die mooiste glimlag. Sy het ’n hart van goud gehad. Sy en haar nefie was mekaar se steunpliare. Ons gaan haar stem en die gesprekke rondom die kombuistafel mis,” het sy bygevoeg.”

Volgens die skool se hoof, Leon de Beer, was Jonika ’n lieflike kind.

“Dit is met leedwese en hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van Jonika. Ons innige meegevoel gaan uit aan haar familie en geliefdes.

“Ons wens vir hulle is vrede en vertroosting, moed om die dae wat voorlê in die oë te kyk en liefdevolle herinneringe om vir altyd in hulle hart te hou,” het die hoof gesê.
Jonika laat pa, ma, stiefpa, drie boeties en suster agter.

Wilmie van Deventer, een van Jonika se viendinne , het gesê dat sy ‘n engelkind was.“Jonika het altyd gelag.

Sy het altyd die wêreld in die oë gekyk en dinge gevat soos dit kom. Sy was een keer by ons huis en het vir ons die lekkerste koekies gebring. Sy het altyd met ‘n glimlag op haar gesig geloop. Jy gaan baie gemis word poplap. Jy het jou engelvlerke gekry,” het sy namens die Van Deventer-gesin gesê.

Medelye op Hoërskool Dr EG Jansen se Facebook-blad:
Christelle van Deventer: Namens die gebedsgroep van EG Jansen, innige meegevoel aan haar ouers, familie en vriende. Baie sterkte vir hierdie moeilike tyd mag ons hemelse Vader julle styf vas hou in Sy arms. Jonika, jy was ’n engelkind wat altyd geglimlag het. Jy het so baie kinders se lewens aangeraak sonder dat jy dit besef het. Ons gaan jou vreeslik baie mis. Rus in vrede, poplap. Jy het jou engel vlerke gekry. Baie sterkte aan die matriekklas van 2021.
Melanie Lanie Potgieter: Dis verskriklike hartseer nuus. Ons gebede gaan saam met al haar familie.Maria Pepler: Jammer om te verneem van jul dogter se afsterwe. Sterkte aan die familie vir die moeilike tyd wat voorlê. Mag die Here se groot genade jul vertroosting bring.
Sue-Ann de Bruyn: Verskriklike hartseer nuus. Baie sterkte aan haar familie en vriende. Mag die Here julle dra in hierdie hartseer tyd.
Jenny Wilcocks Nel: Jammer om dit te hoor. Mag die Here die naasbestaandes troos.
Charlene Catherine du Venage: Ons innige meegevoel aan haar familie en vriende. Mag hul die vertrosting van onse Vader wat in die hemele is en die genade van bo. Sterkte.
Melanie van Niekerk: So baie jammer om dit te hoor. Mag ons Abba Vader die familie en vriende vertroos met Sy vrede en liefde.
Ina Steyn: So jammer. Baie sterkte. Dit is vir seker ’n seer pad. Mag liewe Jesus julle troos en styf vashou.

Lees Ook: Matrikulant van Oosterlig verloor stryd teen lupus

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button