Local newsNewsSchools

Jaco Kriel inspireer leerders by Laerskool Goudrand

Die besoek is deur leerders en personeel as besonder inspirerend ervaar, ’n dag wat ’n blywende indruk by Laerskool Goudrand gelaat het.

Die voormalige Springbok- en Leeusflank Jaco Kriel het onlangs ’n besoek afgelê by Laerskool Goudrand, waar hy leerders toegespreek het met ’n kragtige boodskap oor vriendelikheid, empatie en teen-boeliegedrag.

Kriel het beklemtoon hoe belangrik dit is dat kinders mekaar ondersteun en met respek behandel. Hy het verduidelik dat klein dade van vriendelikheid ’n groot verskil in iemand anders se lewe kan maak.

“Wees vriendelik. Een vriendelike woord kan alles verander. Wees die kind wat iemand anders se rugsak ligter maak,” het Kriel gesê, ’n boodskap wat sterk by die jong gehoor aanklank gevind het.

Also Read: Young athletes makes Goudrand proud

Buite die rugbyveld het Kriel ook groot persoonlike uitdagings beleef. Hy het openlik gepraat oor die verlies van naby familielede vroeër in sy lewe, insluitend sy ma, broers en susters. Hy het ook sy pa se siekte en latere afsterwe ervaar nadat hy met motorneuronsiekte gediagnoseer is. Nou maak hy ‘n verskil in ander se lewens.

Jaco Kriel
Die voormalige Springbok- en Leeusflank Jaco Kriel spreek die leerders van Laerskool Goudrand toe.
Jaco Kriel
Jaco Kriel saam met Juane Labuschagne van Laerskool Goudrand.
Jaco Kriel
Erik van Heerden van Laerskool Goudrand, Jaco Kriel en Shelton Botes (adjunkhoof).

Kriel is die stigter van die JK6-stigting, wat daarop gemik is om die jeug te bemagtig. Deur inspirerende skoolbesoeke en interaktiewe programme fokus die stigting daarop om hoop, veerkragtigheid en gesonde besluitneming onder jongmense te bevorder. Die doel is om die volgende geslag te inspireer om teëspoed te oorkom en positiewe lewenskeuses te maak.

Also Read: Lions-sterre bring krieket-inspirasie na Laerskool Concordia

Adjunkhoof Shelton Botes het gesê dit was vir die skool ’n voorreg om Kriel te verwelkom.

“Ek is self ’n groot aanhanger van Jaco. Hy is baie nederig, en sy vrou is ook baie gaaf. Hy het ’n goeie en betekenisvolle boodskap aan die kinders oorgedra. Hy het ook oor teen-boelie gepraat en die leerders aangemoedig om mekaar nie te boelie nie. Hy het gedeel dat hy self geboelie is. Wat lekker was is dat hy het met die leerders op húlle vlak gepraat,” het Botes gesê.

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button