Lions-sterre bring krieket-inspirasie na Laerskool Concordia
Dit was ‘n dag vol opwinding wat die leerders nie gou sal vergeet nie.
Die speelvelde van Laerskool Concordia het gegons van opgewondenheid op 28 Augustus toe spelers van die DP World Lions en die Lions-damespan op die terrein aangekom het – nie vir ’n wedstryd nie, maar om hul kennis, vaardighede en passie vir krieket met jong leerders te deel.
Wat begin het as ’n gewone skooldag, het vinnig in ’n buitengewone geleentheid ontaard, toe die professionele spelers hul plek langs die kinders op die veld inneem. Dié krieketkliniek was nie net ’n sportgeleentheid nie, maar ’n inspirasie – ’n dag waar drome vorm begin aanneem het, en waar krieketsterre van môre eerstehands kon leer by dié van vandag.
Lynn van Zyl, hoof van bemarking by Laerskool Concordia, het verduidelik dat die kliniek moontlik gemaak is deur samewerking met McDonald’s East Rand Value Mall.
“McDonald’s is een van hul borge en ondersteun Laerskool Concordia. As skool probeer ons soveel moontlik geleenthede aan ons leerders bied, en ons was baie opgewonde oor dié besoek,” het sy gesê.
Rosemary Mphela, bestuurder van McDonald’s East Rand Mall, het beklemtoon dat die inisiatief deel vorm van McDonald’s se kernwaardes. “Ons glo daaraan om terug te gee aan die gemeenskap, en vandag se geleentheid is ’n manier om ’n positiewe impak op jong mense se lewens te maak,” het sy bygevoeg.


Lions-afrigter Jimmy Kgamadi het gesê: “Die Lions-span en die damespan het die jongspan met hul krieket gehelp. Ons het veldwerkstasies gedoen en gefokus op vangwerk, gooi, hoë vange, plat vange en grondveldwerk. Dis vir ons ’n groot voorreg om hier te wees, om krieket na die mense toe te bring en ons ondersteuners te help – in plaas daarvan dat hulle altyd na ons toe by die Wanderers kom om ons te ondersteun. Dis ’n wonderlike manier vir ons om iets terug te gee aan die gemeenskappe.
Ons waardeer regtig die geleentheid om hier te wees. Wat die talent betref wat ons vandag gesien het – daar is beslis potensiaal. Die seuns het goeie energie en daar is ’n paar goeie veldwerkers. Maar veldwerk is iets wat ons as afrigters landwyd daagliks moet slyp met die jong spelers, want daar is altyd ruimte vir verbetering. Soos ons almal weet, gaan veldwerk hand aan hand met gesindheid. As jy ’n goeie houding teenoor veldwerk het, is jy al halfpad daar. Dan kan ons as afrigters daardie vaardighede net verder verbeter.
Laastens wil ek sê: vir die jong spelers in die eerstespan, tweedes, derdes of vierdes – werk saam as ’n span. Ons sien soms jongspanne wat mekaar kritiseer as iemand ’n fout maak, maar ons almal is besig om te leer. In plaas daarvan om te kritiseer, moet ons mekaar aanmoedig. Want soos die woord ‘span’ sê – Saam Presteer Almal Nog beter. Ons moet aanhou aanmoedig en ondersteun.”
Die dag het met groot opgewondenheid afgesluit, en die kinders sal dié ervaring – om skouer aan skouer saam met professionele krieketspelers te oefen – nie gou vergeet nie.
Laerskool Concordia bedank McDonald’s hartlik vir hul betrokkenheid en ondersteuning by die sukses van hierdie spesiale dag.
Also Read: Laerskool Concordia se atlete wys hul staal by interlaer
Also Read: Laerskool Concordia spog met puik atleet



