Voortrekkers deel veesviering met bejaardes
95 kolwyntjies om beweging se herdenking te vier.
As die vaandeldraers van die Afrikanerkultuur het die lede van die Susan Badenhorst-Voortrekkerkommando, Witfield, die beweging se 95ste bestaansjaar saam met die inwoners van Trans 50 Witfield Park Aftreeoord gevier.
Op 21 September, getooi in hul uniforms, het 21 Voortrekkers die oord se eetsaal binnegetree met kolwyntjies en varsgeknipte blomme.
“Hulle lyk so deftig en kyk net al hul merietekentekens,” het een inwoner gesê.

“Het hulle net vir ons kom kuier?”
Met ’n glimlag sê kommandoleier Annetjie Smit dat die beweging amptelik sy stigting op 30 September herdenk, maar dat die lede die aangeleentheid saam met van die stad se bejaardes wou vier.
“Gestig in 1931 deur NJ van der Merwe, Vader Visser en Japie Heese, het die Voortrekkers oor dekades heen gegroei tot ’n lewenskragtige kultuurorganisasie,” het sy gesê.
“Getrou aan die stigtingsideale is die jeugorganisasie steeds toekomsgerig en dinamies.”
“Ek is sedert Graad R ’n trotse lid van die Voortrekkers,” het Carla Grobbelaar (18) gesê.
“Die beweging bied meer as wat skoolgebaseerde buitemuurse aktiwiteite bied.
“Ons leer talle vaardighede, geniet aksiebelaaide natuuravonture in ons taal en na aan dié van ons voorvaders.”
Vir Wikus Grobbelaar (15) is die bande tussen die Afrikaanse kultuur se geskiedenis en voorbehoud merkwaardig.
“Om te leer hoe die Voortrekkers oorleef en voortgestreef het, is baie interessant,” het hy gesê.
“Ons land se geskiedenis is ryk aan uiteenlopende kulture, elk wat tot vooruitgang bygedra het.
“Dit is ’n voorreg om deel te wees van ’n beweging wat dit wat eie aan Afrikaanssprekendes is, koester en vier.”
Van die beweging se 95ste herdenking sê van die jonger lede dat die twee Ks van die Voortrekkers die meeste pret is.
“Kuns en kamp is my gunsteling,” het Evan Coetzer (8) gesê.

“Ek hoop die beweging bly soos dit is en trek altyd vorentoe, soos die ou Voortrekkers,” het Blake Fareira gesê.
Na lekker geklets en drukkies met die inwoners van die aftreeoord het die Voortrekkers afskeid geneem in die hoop dat hul besoek vreugde gebring het en elkeen spesiaal laat voel het.
Vir meer inligting oor die plaaslike kommando se werksaamhede of om deel te word, skakel Smit by 082 922 7889.


LEES OOK: Susan Badenhorst Voortrekkers leer baie tydens kamp
LEES OOK: Susan Badenhorst Voortrekkers soek nuwe lede








