“Jy is goed genoeg”: Van mishandeling na 'n nuwe begin
16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders is ’n internasionale bewusmakingsveldtog wat jaarliks van 25 November tot 10 Desember plaasvind.
Agter die glimlag van ‘n vrou in haar sestigs, wat vandag haar hand na behoeftige mense uitsteek, lê ‘n lewensverhaal van trauma mishandeling, moeilike omstandighede en uiteindelik die moed om weer van voor aft e begin.
Die Boksburg Advertiser het met dié Sunward Park inwoner, wat weens veiligheidsredes verkies om anoniem te bly, gesels in die lig van die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders (25 November 25 tot 10 Desember). Haar verhaal is een van oorlewing, geloof en hoop.
Sy vertel dat haar kinderjare deur vrees en moeilike gesinsomstandighede gekenmerk is. Sy het reeds op ‘n jong ouderdom trauma beleef wat ‘n blywende invloed op haar lewe gehad het.
“Wanneer jy as kind nie veilig voel waar jy eintlik beskerm behoort te word nie, laat dit letsels wat jy soms vir baie jare saam met jou dra,” het sy vertel.
As jong vrou het sy daarna uitgesien om ‘n eie lewe en ‘n gelukkige gesin te bou. Haar huwelikslewe het egter nie verloop soos sy gehoop het nie. Haar man se alkoholmisbruik en verhoudingsprobleme het mettertyd hul tol geëis.
Sy het vier kinders grootgemaak terwyl sy prober her om vir hulle ‘n stabiele en liefdevolle omgewing by die huis te skep.
“Ek wou altyd net ‘n normale, gelukkige gesinslewe hê. Ek wou my kinders net die beste gee. Ek het nooit getrou met die gedagte dat ek eendag sou skei nie.”
Later het sy ook ‘n tweede huwelik beleef waarin sy, volgens haar vertelling, ernstige emosionele en fisieke mishandeling ervaar het.
“Daar was tye wat ek myself heeltemal verloor het. My selfvertroue was weg en ek het soms gevoel ek is niks werd nie. Dit is wat mishandeling aan ‘n mens se menswees kan doen.
Sy vertel dat dit nie altyd vir buitestaanders duidelik is wanneer iemand mishandle word nie.
“Jy leer om ‘n glimlag op jou gesig te sit en aan te gaan met jou dag. Jy wil nie hê ander moet weet wat in jou huis aangaan nie. Soms is die skaamte en vrees so groot dat jy eerder stilbly.”
Ten spyte van alles het sy egter nie haar geloof verloor nie.
“Ek het deur al die jare met die Here bly praat. Daar was dae wat ek nie geweet het hoe ek die volgende dag gaan aanpak nie, maar my geloof was vir my ‘n bron van krag.”
‘n Nuwe liefde en begin
Ná jare van teleurstelling en hartseer het daar uiteindelik weer lig in haar lewe gekom.
Vandag is sy gelukkig getroud en beskryf haar man as ‘n groot bron van liefde, ondersteuning en stabiliteit.
“Ek het nooit gedink dat ek so gelukkig sou kon wees nie. Hy het my gehelp om weer in myself te glo en my gewys dat liefde nie veronderstel is om seer te maak nie. Ek voel vandag veilig en geliefd.”
Haar boodskap aan vroue: “Jy is goed genoeg.”
Wanneer sy gevra word watter raad sy aan vroue kan gee wat tans in gewelddadige verhoudings vasgevang is, is haar boodskap duidelik: “Moenie in stilte ly nie. Soek hulp en kry, waar moontlik, ‘n veilige uitweg.
“Ek verstaan daar is vrees, onsekerheid en baie emosies betrokke, maar moenie glo dat jy hierdie behandeling moet aanvaar nie. Reik uit na iemand wat jy vertrou en kry hulp. Jou lewe en veiligheid is belangrik. Jy kan weer opstaan en gelukkig wees.”
Van persoonlike pyn na ‘n hart vir ander
Sy prober vandag waar moontlik ook ‘n verskil maak waar sy kan. Sy help behoeftige mense, veral in Brakpan, deur kospakkies asook klere uit ted eel, sover haar vermoëns en beskikbare middele dit toelaat.
“Ek weet hoe dit voel om deur moeilike tye te gaan. Ons moet na mekaar omsien.”
Met die 16 Dae van Aktivisme as agtergrond, hoop sy dat meer mense bewys sal word van die werklikheid van geweld teen vroue en kinders en dat gemeenskappe meer begrip en ondersteuning aan slagoffers sal bied.
LEES OOK: 16 Days of Activism: Locals reflect on the root causes of GBV
LEES OOK: Ekurhuleni marks start of 16 Days of Activism with renewed call to end GBV








