VLU leer fudge en rose maak
Lede van die gemeenskap word uitgenooi om aan te sluit by die tak.
Die Vrou Landbou-Unie (VLU) Boksburg-tak het op 6 April te NG Kerk Boksburg, bekend as die Klipkerk, ’n algemene maandvergadering gehou waar hulle geleer het om mikrogolf fudge en Dior rose te maak.
Tydens die geleentheid het die vroue lief en leed gedeel en gepraat oor die tak se toekoms.
Anna Erasmus het vir die lede gewys hoe om heerlike fudge in die mikrogolf te maak terwyl Alta Viljoen die vroue geleer het hoe om die rose te maak.
Alta Prinsloo, voorsitter van die plaaslike tak, moedig die publiek aan om betrokke te raak by die tak.

“Die Boksburg-tak is altyd op soek na nuwe lede. Enige persoon, oud en jonk, is welkom om by ons aan te sluit,” het Prinsloo bygevoeg.
Die VLU bestaan al vir 90 jaar en is ’n nie-winsgewende organisasie wat die volwasse vroue verryk en bemagtig.
Hulle glo in bemagtiging deur vaardighede en kennis met mekaar te deel.
Die Boksburg VLU kom elke eerste Woensdag van die maand om 10:00 by die Klipkerk bymekaar.
Kontak Prinsloo by 082 612 0844 vir meer inligting en navrae.
Lees Ook: Word deel van die VLU in Boksburg
Lees Ook: Boksburg VLU sluit jaar af



