Local news

Kompetisie maak EG leerder ‘n ster

'n Kombinasie van passie en harde werk en goeie mentorskap is Shaniqua se sleutel tot sukses.

Soos Lucas Maree, sou baie mense ‘kon doen met ‘n miljoen’.

Shaniqua Steenkamp, ‘n leerder van Hoërskool Dr EG Jansen, droom egter nie net daarvan om ‘n miljoenêr te word nie, maar sy werk hard om dit ‘n realiteit te maak.

Dié Graad Nege-leerder het onlangs as die wenner van die Maak My ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en die ViaTV-reeks weggestap.

Sy het teen 144 hoërskoolleerders meegeding.

Shaniqua het vir die kompetisie ingeskryf nadat Albert van Wyk, eiendomsbelegger en skrywer van die boek, How to become a millionaire at 22, die skool besoek het.
Die kompetisie het uit verskeie dele bestaan wat ook dan deel van die TV-program was.

“Ons het werkswinkels gehad. Jou besigheid se boeke moes gereeld ingestuur word. Daar was ‘n week vol opwindende uitdagings en opnames en onder andere markte by Buffelspoort.
“Soms moes ons laat in nagte voorraad vul, en dit terwyl ‘n skooldag en soms toetse en eksamen vir jou wink,” het Shaniqua vertel.

Shaniqua wen ‘n kontantprys van R30 000, ‘n jaar mentorskap saam met Albert van Wyk, ‘n webtuiste en logo-ontwerp vanaf Gazzaroo, Bovest Wealth management mentorskap week, ‘n sakrekenaarsak en ‘n aanlegstoets van Akademia, ‘n besigheidsafrigting vanaf die Mos Inisiatief ‘n besigheid-in-‘n-boks afrigting en ‘n naweek weg na die ATKV Buffelspoort.

Tog voel sy dat elke oomblik van die reis die moeite werd was en bygedra het tot haar entrepreneursverhaal.

“As wenner sal ek soos die vorige wenner, Matthew Blawe, saam met Albert die pad wil stap.
“Ek sal ook graag ander hoërskoolleerders wil inspireer om hul drome na te streef en hul eie besighede begin. Ek sal volgende jaar saam met Albert skole besoek.

“‘n Mens hoef nie altyd die mees innoverende besigheidsidee te hê nie- net ‘n passie en ‘n wil om jou besigheid te laat werk. “

Die kompetisie het vir Shaniqua die platform gegee om haar idees te omskep in ‘n besigheid.

“‘n Kombinasie van passie, deursettingsvermoë, harde werk en die regte mentorskap het my storie in ‘n suksesstorie omskep,” het Shaniqua bygevoeg.

Sy het gesien in besigheid hou mens nooit op om te leer nie.

“Ek sien baie uit na my mentorskapsessies saam met Albert, Bovest Health, Akademia en die Mos Inisiatief.
Haar raad aan leerders wat droom om eendag ‘n besigheid te begin is, “As jy dit kan droom kan dit waar word. Begin sommer vandag nog en kyk uit vir Maak My ‘n Miljoenêr 2024.”

Meer oor Shaniqua en haar ervaring
Jy het met baie mense gewerk tydens die verfilming van die program. Wie was die lekkerste om te ontmoet?
Albert en Marilie is verseker bo aan die lys. Hulle het elke oomblik besonders gemaak. Dit was egter ook baie lekker om nog jong entrepreneurs te ontmoet wat reeds suksesvolle besighede het. Ons Top 20 het vinnig ons voete gevind en deel gevorm van die Maak My ‘n Miljoenêr familie.

Jy het baie hooi op jou vurk as dit kom by sport en kultuur. Hoe kry jy dit reg om by alles uit te kom?
Ek moet sê dit is redelik moeilik om al die balle in die lug te hou, maar een ding wat Albert ons van die begin af geleer het is tydsbesteding. Julle kan self in sy boek gaan lees oor hoe om jou lewe en jou besigheidslewe te bestuur.

Is daar iemand na wie jy opkyk?
Definitief my ma. Sy is ‘n rolmodel al van dag een af. As daar nou iemand is wat weet hoe om hard te werk is dit my ma. Sy ondersteun my met alles wat ek doen en is ook altyd daar vir iemand wat ‘n helpende hand nodig het. Niks is ooit te veel moeite vir haar nie en ek weet vir ‘n feit dat ek nog baie dinge by haar kan leer.

Wat wil jy nog graag in die toekoms bereik?
Ek wil graag in Albert se voetspore volg deur ook jong mense te inspireer en te motiveer om entrepreneurskap te kies. Dan wil ek ook vele besighede opbou en dan op die einde van die dag ‘n miljoenêr word sodat ek ander mense kan help.

Lees Ook: Shaniqua blink in Maak My ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Lees Ook: EG Jansen redenaars presteer

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button