Speurder van formaat is nou 35 jaar by Boksburg-Noord SAPD
O'Neill se deeglike ondersoekwerk is nie ontsien nie en hy spog met talle sertifikate.
“Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê nie.”
Dit is die leuse van adjudant offisier Gidion O’Neill, wat vanjaar 37 jaar in die polisie is en 35 jaar by Boksburg-Noord SAPD.
Hy is ‘n speurder van formaat wat geen vreemdeling in Boksburg is nie.
O’Neill woon sy lewe lank in Boksburg en was ook in sy jong dae ‘n kranige atleet wat rugby en krieket gespeel het op skool en vir die polisie.
Hy het besluit om ‘n polisieman te word omdat hy ‘n verskil wil maak.
O’Neill het sy loopbaan begin as ‘n studente konstabel by die Primrose SAPD in 1988.
‘n Paar maande later was hy verplaas na die OR Tambo Interasionale Lughawe nadat hy sy polisieopleiding in Pretoria voltooi het.
“Dit was nog in die tyd toe die AWB bomme rondom die lughawe geplant het. Ons het nog die lughawe opgepas,” het hy vertel.

In 1990 is O’Neill na die Boksburg-Noord SAPD, waar hy as ‘n konstabel in die aanklagkantoor gewerk het, ook misdaadvoorkoming gedoen het en later vermiste persone.
“Ons het nog op fietse gery en daarin geslaag om baie inhegtenisnames te maak,” onthou hy.
Later is hy bevorder na ondersersant, sersant en adjudant offisier.
“Hulle het op ‘n stadium die rang adjudant offisier verander na inspekteur en toe weer terug verander.”
Oor sy loopbaan onthou O’Neill hy was een van die eerste beamptes wat op die toneel was waar oud-sekretaris-generaal van die SAKP, Chris Hani, voor sy huis in Dawn Park doodgeskiet is. “Dit was chaos.”
In 1995 is hy gevra om by die speurtak aan te sluit.
“My eerste saak was ‘n besigheidsroof by ‘n slaghuis in Dunswart. Die verdagtes het met ‘n Opel gery wat ons verbind het met ‘n huis in Daveyton.”

Sy deeglike ondersoekwerk is nie oorgesien nie. Vir die eerste 12 jaar by die tak is hy as speurder van die jaar aangewys.
O’Neill het baie ervaar in sy loopbaan, maar een saak wat hy nooit sal vergeet nie is waar ‘n pa sy blondekop dogter in 2007 vergiftig in hul woonstel in die Smithfield kompleks.
“Die ma en pa het op skei gestaan. Die ma het dié aand die kind by die pa gelos. Toe sy die volgende oggend haar kind wou groet, sien sy die man het homself doodgeskiet met ‘n haelgeweer en die dogter is vergiftig.
“Ek het al baie lykskoue bygewoon, maar hierdie een het my hard getref. My dogter was dieselfde ouderdom,” het hy gesê.
O’Neill het gesê daar het baie verander sedert hy vir die eerste keer die uniform gedra het.
“Ons het daardie tyd meer met papier gewerk. Nou is alles digitaal,” het hy gesê.
Mense wat ‘n impak op sy loopbaan gehad het is kolonel Botha, kaptein Homan, kolonel Kghomo, adjudant offisier Schalk Dippenaar en lieutenant kolonel Chetty.
Also Read: Police van and car collide



