Helpende Hand Boksburg herstel waardigheid met projek vir bejaardes
Solidariteit Helpende Hand fokus op vyf kernwaardes: roeping, geloof, uitnemmendheid, getrouheid en nederigheid.
Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak bring nie net noodsaaklike higiëneprodukte na bejaardes toe nie, hulle herstel ook menswaardigheid, een sakkie op ’n slag.
Wat begin het as ’n eenvoudige versamelprojek van badkamerbenodigdhede, het vinnig gegroei tot ’n hartroerende gemeenskapsinisiatief wat ’n werklike verskil maak in die lewens van senior burgers.
Onder leiding van Annerie du Pisanie, voorsitter van die tak, is daar reeds begin om badkamersakkies vol liefde en noodsaaklikhede, soos tandeborsels, seep, lyfroom en sjampoe, uit te deel aan bejaardes by die Andries Scribante Haven.
“Vir baie van ons is hierdie dinge vanselfsprekend, maar vir ’n groot deel van ons bejaarde bevolking is dit luukshede wat hulle eenvoudig nie kan bekostig nie.
“Wanneer ons vir hulle ’n sakkie gee, sien jy hoe iets verander – nie net aan die buitekant nie, maar aan die binnekant ook,” het Du Pisanie gesê.

Wat hierdie projek uniek maak, is die volgehoue betrokkenheid van die gemeenskap. Ouers en kinders pak saam sakke, klein ondernemings skenk produkte, en selfs kleuterskole is genooi om betrokke te raak.
Die uiteindelike droom? Om hierdie gebaar van omgee maandeliks te herhaal en uit te brei na ander tehuise en bejaarde instellings.
“Ons glo elke mens verdien om skoon en met waardigheid te leef, ongeag hul ouderdom of omstandighede. Met die hulp van ons gemeenskap kan ons hierdie visie ‘n werklikheid maak.”
Enigiemand wat wil bydra, hetsy met produkte of tyd, word uitgenooi om deel te word van hierdie golwende beweging van goedhartigheid.
Vir meer inligting, kontak Annerie by 083 990 3624.
Lees Ook: Winter Knights to bring warmth again
Lees Ook: Helpende hand wil senior burgers help met badkamersakkies



