Boksburger vier 100ste verjaardag
Cornelius gaan sy eeufees vier saam met familie en vriende tydens ’n gesellige partytjie.
Hy is 100 jaar oud, dra net ’n bril as hy lees, het geen versorger nodig nie, en stap elke dag twee keer om sy huis.
Cornelius de Villiers van Boksburg-Suid is die toonbeeld van vitaliteit, en op 3 Oktober vier hy sy eeufees met ‘n glimlag.
Toe die Boksburg Advertiser hom by sy huis ontmoet het, sou ’n mens skaars glo hy is 100 jaar oud.
Cornelius woon saam met sy vrou, Bets, en het die geheim tot ’n lang, gesonde lewe eenvoudig opgesom: “Harde werk, gesond eet en gereelde oefen.”
Hy is op Warden naby Harrismith gebore en het ’n eenvoudige maar ryk lewe geleef.
Hy het verskeie plaasskole bygewoon.
“Die wêreld het baie verander, veral met tegnologie. Toe ek jonger was, moes ek soms per perd skool toe ry,” onthou hy.
Hy onthou ook dat hy op ’n stadium in Commissionerstraat by die legendariese boksvegter Johnny Squires ’n kamer gehuur het.
“Ek het nog in die koerant gelees dat hy oorlede is. Na Johnny se dood het ek eendag nog sy vrou in Durban raakgeloop,” vertel Cornelius.

Hoewel hy aanvanklik ’n motorwerktuigkundige wou word, het sy pad anders geloop.
“Hulle wou hê ek moes weermag toe gaan, maar ek het nie regtig belanggestel nie en het eerder na ons plaashuis teruggekeer.”
Daarna het hy eers op die spoorweë gewerk as vlagman wat voertuie vir treine gestop het. Later was hy vir jare ’n ketelmaker (boilermaker).
Cornelius was eerste getroud met Mossie Louw, met wie hy ’n tweeling en dogters gehad het. In ongeveer 1977 het hy met sy tweede vrou, Bets, in die Klipkerk getrou. Hulle het saam ’n seun. Sy nageslag bestaan uit vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Sy stokperdjies sluit jag, visvang, lees en musiek in.
Hy vertel laggend van sy hond, Ranger, wat altyd saam met hom gejag het. “Hy het presies gedoen wat ek doen. As ek buk, buk hy ook. Ek weet tot vandag toe nie hoe hy dit geleer het nie.”
Wanneer hy oor sy lewe en die wêreld dink, gee hy raad wat by almal aanklank vind: ‘Werk hard en los die drank,’ sê hy met ’n skertsende glimlag.
Cornelius gaan sy eeufees vier saam met familie en vriende tydens ’n gesellige partytjie, ’n geskikte viering van ’n lewe vol harde werk, gesonde waardes en ’n onblusbare lewensgees.
Lees Ook: 100 candles for Joan
Lees Ook: Tannie Tossie wil hê niemand moet honger ly op haar 100ste verjaardag



