Volkspele leef steeds voort in Boksburg
Inspan Volkspelelaer nooi die gemeenskap uit om deel te word van die organisasie.
Tussen die ritmes van ou bekende liedjies en die swaai van tradisionele rokke, dans ’n groep toegewyde volksdansers week ná week hul erfenis lewendig. Inspan Volkspelelaer kom getrou elke Dinsdag om 18:45 by die Trans-50 Witfield Park Aftree-Oord byeen, en hier is tradisie nog iets om aan vas te hou.
Volkspele, wat sy wortels het in Afrikanerpieknieks van die 19de eeu, is meer as net dans. Dit is ’n kultuurerfenis, ’n gemeenskapsaktiwiteit en, volgens Inspan se sekretaresse, Marita van der Walt, “’n kuns wat jy aanleer, maar wat in jou hart moet wees.”
“Ons speel nog dieselfde liedjies wat dekades gelede gespeel is, en die tradisionele drag het ook nie veel verander nie. Daar het ’n paar nuwe liedjies bygekom oor die jare, maar ongelukkig word Volkspele nie meer in skole aangebied soos voorheen nie,” vertel sy.
’n Beweging wat in 1914 begin het
Volkspele het formeel begin toe dr. Samuel Henri Pellissier, ’n jong onderwyser, in 1914 besluit het om die informele speletjies van Afrikanerjeug te organiseer en te bewaar. Ná ’n besoek aan Swede, waar hy die land se trotse volksdanskultuur ervaar het, het hy besef dat Afrikaners hul eie musiek en danse as waardevolle kulturele besittings moes begin beskou.
Wat begin het as eenvoudige speletjies soos Jolly Miller en Japie my Skapie, het ontwikkel tot ’n gesamentlike beweging wat Afrikaners oor geslagte heen verbind het.
’n Lewe van ritme, dissipline en lag
Hoewel Volkspele deesdae minder algemeen is, bly dit vir dié wat daaraan deelneem, ’n bron van plesier en trots.
“Ons senior burgers by die oord kyk graag saam, en as jy eers die Volkspele-byt beet het, laat dit jou nie los nie. Dis lekker, dis gesond, en dit leer jou dissipline en leierskap,” sê Van der Walt.
Tog is dit nie altyd maklik om jonger lede te werf nie.
“Ons probeer nou by die Voortrekkers en bazaars betrokke raak en tree op waar ons kan. Hopelik lok dit mense. Maar dis moeilik, mense se programme is vol, en daar is nie genoeg jonger lede nie.”
Selfs op aande wanneer daar min mense opdaag, gee hulle nie moed op nie.
“Dan sing ons maar net saam. Dit laat ons sommer beter en ontspanne voel,” sê sy met ’n glimlag.
Inspan nooi graag nuwe lede, jonk én oud, om deel te word van hul dansfamilie.
Vir meer inligting, kontak 074 116 5497.
Lees Ook: Volkspelers bring vreugde aan seniors met sang en dans
Lees Ook: Sluit aan by Suiderland Volkspelelaer en bewaar die Volkspele-kultuur



