Van sitkamerkonserte tot die silwerdoek: Zoricke Snyman leef haar droom
Een ding is seker: of sy nou op die verhoog, voor die kamera of voor ’n klas kinders staan, leef sy haar pa se woorde uit. Sy doen dit voluit.
Wanneer aktrise Zoricke Snyman van Sunward Park vandag ’n stel binnekom, dra sy altyd ’n bietjie van haar kinderjare saam – daardie huis gevul met stories, musiek en spontane sitkamerkonserte wat uiteindelik die grondslag gelê het vir ’n loopbaan in die vermaaklikheidswêreld.
Haar pa het haar en haar sussie gereeld teater toe geneem “wanneer die rapport huis toe kom” en haar ma het stories voorgelees wat hulle verbeeldingswêreld oopgemaak het.
Dit was die eerste saad wat geplant is, maar dit was eers in Graad 11 op die verhoog van die Unisa Kleinteater dat sy geweet het: “Hier is waar ek wil wees.”
Toe sy dié besluit aan haar pa toevertrou, het hy met woorde geantwoord wat sy steeds dra: “Gaan doen dit, maar as jy dit doen, doen dit voluit.”
Met ’n loopbaan gebou op geloof, ompadpaadjies en ’n bietjie magic beskryf Zoricke dit as “een groot avontuur, alles uit die Vader se hand en op Sy tyd.”
Sy glo nie aan terugkyk nie; selfs ’n ompad is waardevol, sê sy, “want partykeer is daardie uitsigte die beste.”
En dalk is dit juis hierdie ingesteldheid wat haar uniek maak. Sy glo elke akteur bring sy eie ‘magic’, iets wat nie in woorde vasgevang kan word nie maar eerder ervaar moet word.
Lees Ook: Thiart Li- Meester van die verhoog, stem en storie
Die Fakulteit: ’n rol tuis op eie turf
Vir baie kykers is Zoricke veral bekend vir haar rol as Amelia in die gewilde reeks Die Fakulteit, ’n storie nóg spesialer omdat dit geskiet is op die terrein van Hoërskool Oosterlig, waar sy skoolgegaan het.
Om terug te keer na haar alma mater as ’n professionele aktrise, was vir haar ’n volsirkeloomblik; ’n bewys dat drome stilletjies, maar seker, waar word.
Van musiekblyspele tot regie: haar top drie mylpale
Hoewel sy elke produksie koester, het drie rolle en projekte besonder diep spore getrap:
• Johanna in Die Gelofte musiekblyspel
• Karla in Semi-Soet die Musiekblyspel
• Assistent-regisseur vir Jannes Erasmus se Vir.Ander
Voorbereiding, uitdagings en die ritme van komedie
Vir Zoricke is elke nuwe rol ’n vars avontuur. Haar doel bly eenvoudig maar sterk: “Om elke karakter so eerlik as moontlik te vertolk en die skrywer te eer.”
En hoewel elke rol sy eie uitdagings bied, bly komedie die moeilikste, maar ook die lekkerste. “Dit verg ’n spesifieke tydsberekening, maar dit is lekker.”
’n Mentorsirkel wat mekaar dra
Waar ander dalk op ’n enkele mentor steun, beskryf Zoricke haar grootste inspirasie as ’n sirkel van mense wat mekaar vashou, druk, motiveer en vir mekaar klap. Dis juis hierdie kreatiewe gemeenskap wat haar help om gegrond te bly in ’n bedryf wat sy beskryf as uitdagend. Ek verruil dit vir niks nie.”
Die onderwyseres in haar: jong talent voed is haar ander groot passie
Benewens haar eie loopbaan, bou Zoricke aan die volgende generasie akteurs.
Sy is sedert 2012 deel van The Playhouse Acting Studio in Boksburg – eers as afrigter en vanaf 2016 as franchisehouer. Saam met mede-akteur Thiart Li bied sy ook sedert 2022 ’n Drama-ontwikkelingsprogram vir grondslagfase-leerders aan by Laerskool Elspark en Laerskool Van Dyk Primary.
Hierdie onderrigrol is vir haar onskatbaar: “Die groei in kinders is iets wat geld nie kan koop nie.”
Haar span Thiart Li, Morné Vogel, Phillip Schnetler, Zijn Rudolph van Zyl en Carien Botha speel ’n groot rol in die sukses van die program.
Die jaarlikse hoogtepunt?
Die Studentfilms Showcase, waar die kinders se films by Numetro by Emperors Palace vertoon word is vir baie jong akteurs hul eerste keer om hulleself op die silwerdoek te sien.
Lees Ook: Zijn maak steeds golwe in die vermaaklikheidsbedryf
Toekomsdrome
Zoricke se sussie woon in Nederland en saam met die groot Suid-Afrikaanse gemeenskap daar, droom sy daarvan om eendag ’n Afrikaanse vertoning in Nederland op die planke te bring.
Daar is reeds ’n paar projekte in die pyplyn vir 2027, maar vir nou bly die besonderhede nog geheim.



