Thiart Li- Meester van die verhoog, stem en storie
Die talentvolle kunstenaar het al in verskeie plaaslike TV-reekse verskyn soos Generations, Legacy en Binnelanders.
Met ’n loopbaan wat al meer as twee dekades strek, is Thiart Li (35) van Boksburg nie net ’n akteur nie; hy’s ’n sanger, stemkunstenaar, seremoniemeester, entrepreneur én baanbreker.
Sy reis op die Suid-Afrikaanse en internasionale verhoog is een van toewyding, diversiteit en kreatiewe uitnemendheid.
Thiart Li het sy formele opleiding in drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi en sedertdien in verhoog-, televisie- en filmproduksies verskyn – insluitend internasionale optredes in Dubai, gewilde plaaslike TV-reekse soos Generations, Legacy en Binnelanders, asook kinder- en musiekteater.
Hy het geskiedenis gemaak as die eerste dragkunstenaar op Idols SA, is die skepper van die LGBTQIA+ webreeks We’re Queer My Dear, en ’n aktiewe stemkunstenaar en mentor.
Sy werk as seremoniemeester vir Cashbuild en sy betrokkenheid by gemeenskapsprojekte en jeugontwikkeling getuig van sy toewyding aan kuns en impak.
Wanneer het jy besef jy wil ’n loopbaan in die uitvoerende kunste volg?
In 2007 het ek drama as vak begin neem by Hoërskool Outeniqua. In 2008 het ek die hoofrol in The Boyfriend gekry, en toe besef dis wat ek vir altyd wil doen.
Watter rol het jou die meeste bygebly – en hoekom?
Die rol van Lord Farquaard in Shrek Jr. (2015) by die People’s Theatre. Dit was fisies en vokaal uitdagend, met meer as 200 vertonings. Die produksie het ook ’n Naledi-toekenning gewen.
Hoe balanseer jy al jou rolle?
Deur veelsydig te wees en elke rol soos ’n “baadjie” aan te trek. Dit kan oorweldigend wees, maar balans en selfkennis help om elke taak goed te verrig.
Wat het Shenay O’Brien se oomblik op Idols SA vir jou beteken?
Dit was ’n spesiale oomblik van erkenning en aanvaarding. Ek kon myself wees, en dit het hoop gegee aan ander wat ook “anders” is.
Waar het die idee vir Hospitale, Kateters en Familielede ontstaan?
Die skrywer en reggiseur Wynand van Vollenstee,het inspirasie gekry uit sy eie hospitalervaring. Hy het dit omskep in ’n teaterstuk vol humor en hart.
Ervaring in Semi-Soet – Die Musiekblyspel?
Ek het aanvanklik vir die rol van Hertjie oudisie gedoen, maar toe Josie gespeel. Dit was kreatief stimulerend met ’n ongelooflike span. Ek hoop die produksie keer terug.
Watter raad het jy vir jong kunstenaars?
As jy moet ‘n kunstenaar wees, doen dit. Werk hard, bly nederig, wees voorbereid en glo in jouself. Moenie bang wees om te misluk nie – leer en probeer weer.
Verder werk Thiart Li aan musiek wat hy beplan om volgende jaar vry te stel.
Lees Ook: Alba Vorster sing oor verlange en laat jou voel jy’s nie alleen nie.
Lees Ook: Lu-Anél maak steeds golwe in die musiekbedryf



