Vita Aid TF-Response bring Kersvreugde na Happy Tigers-dagsorg
Kinders bederf is met geskenke, lekkernye en ’n spesiale kuier van Kersvader en sy feëtjies.
Vita Aid TF-Response het onlangs groot glimlaggies op die kinders van Happy Tigers-dagsorg in Boksburg-Noord se gesiggies getower toe die organisasie ’n Kersfees-besoek met geskenke, speelgoed en lekkernye aan die jongspan gebring het.
Die geskenkpakkies is feestelik oorhandig deur ‘Kersvader’ en sy ‘feëtjies’.
Lees Ook: Kersfeesvreugde vir kinders het bystand nodig
Volgens die organiseerder Barbara Smith was die doel van die inisiatief om Kersgees weer lewendig te maak in ’n tyd waar dit al hoe moeiliker raak om die feestelike warmte te behou.

“Ons het besluit om ’n dagsorg te bederf met ’n verrassings Kersfees. In vandag se tyd is dit soms moeilik om daardie Kersfeesgees te hou, maar die kinders se glimlaggies maak alles die moeite werd. Hulle blink as hulle vir Kersvader sien,” het Smith vertel.
Sy voeg by dat die vroeë Kers-besoek sinvol was: “Kersfees gaan oor Christus, maar mense is nou al in die Kersfeesgees.”
Smith het Hettie van Zyl en Elsabie Pretorius bedank vir hul hulp om die dag moontlik te maak.
Buiten die individuele geskenkpakkies het die betrokkenes ook groter speelgoed geskenk, insluitend ’n kinderfiets, om die dagsorg se speelplek verder op te vrolik.
Ina van der Westhuizen, eienaar van Happy Tigers, het diep dankbaarheid uitgespreek.
Lees Ook: A merry afternoon of food, fellowship and festive flair
“Ek het nie woorde nie. Ek is so bly hulle het ons gekies. Ek weet nie hoe om dankie te sê nie. Ek kan net vir die Here dankie sê dat my dagsorg vir nóg ’n jaar gespaar is en vir almal wat dit gereël het. Dit is wonderlik, en dit beteken baie vir ons,” het sy gesê.







