Kersfeesvreugde vir kinders het bystand nodig
Die organisasie het die gemeenskap se hulp nodig om 'n sukses van die inisiatief te maak.
Bethlehem Huis van Brood beplan om weer vanjaar ‘n glimlag op honderde kindergesiggies te sit met hul jaarlikse Kerspartytjie en Kersboom vir die Gemeenskap – ‘n gebeurtenis wat sedert 2019 ‘n hoogtepunt op die kalender is vir kinders in en om Van Dyk Park.
Die partytjie vind plaas op 6 Desember voor A’s Café by Van Dyk Park Winkelsentrum vanaf 10:00 tot 17:30.
Alle kinders tot en met 17 jaar oud is welkom om hierdie spesiale dag saam te kom geniet.
Organiseerders verwag vanjaar so 850 kinders.
“Baie ouers het eenvoudig nie die middele om vir hul kinders geskenke te koop of Kersfees besonders te maak nie. Dis juis hoekom ons hierdie projek aanpak – om hoop en vreugde te bring waar dit die nodigste is,” het een van die organiseerders, Hettie van Zyl, gesê. “
Kos, kuier en Kersfeespret
Tydens verlede jaar se partytjie is meer as 600 kinders bederf met heerlike disse, prettige aktiwiteite soos gesigverf, waterbalonne, speletjies, en natuurlik ’n spesiale besoek van ‘Kersvader’ self!
Hierdie jaar beloof om net so feestelik te wees, met opwindende nuwe toevoegings.
Kunstenaars Franco van Zyl en Betty Jean sal die verhoog betree vir lewendige optredes, en lewensafrigters sal ook aanwesig wees om met ouers en gemeenskapslede te gesels.
Gemeenskapsbydrae steeds noodsaaklik
Om die dag ‘n sukses te maak, doen die organiseerders ‘n beroep op die gemeenskap vir ondersteuning.
“Ons waardeer enige donasie – al is dit net ‘n pakkie lekkers. Ons grootste uitdaging is die ouer kinders. Daarom is skenkings van skryfbehoeftes en toiletware soos room, seep en tandepasta besonders welkom,” het Van Zyl bygevoeg.
Ansa Mostert, bestuurder van Huis van Brood, het voorheen vertel dat sy op Vrydae kos uitdeel by haar huis in Van Dyk Park, en in noodgevalle ook op Maandae en Woensdae.
Enigiemand wat graag ‘n bydrae wil maak of meer wil weet, kan Ansa skakel by 081 886 8695 of Hettie by 081 550 8242.
Also Read: Bethlehem Huis van Brood benodig gemeenskap se hulp om kinders te bederf
Also Read: Bethlehem Huis van Brood se Kerspartytjie ‘n reuse sukses



