Laerskool Concordia se 2025-produksie skitter- ondanks reën én danksy Sorina Erasmus
Reën kon hulle nie keer nie- Sorina en 465 leerders laat Concordia se “Liggies na LIG!” helder skyn.
Laerskool Concordia se jaarlikse produksie het vanjaar ’n verrassende wending geneem toe die onlangse swaar reën die beplande buitelugkonsert op die rugbyveld laat wyk het.
Maar wat as ’n logistieke krisis begin het, is vinnig omtower in iets besonders – danksy ’n vinnige skuif na Freeway Bybelkerk én die sprankelende bydrae van kunstenaar Sorina Erasmus (Die Flooze), wat van die eerste oomblik af flair én geloof na die verhoog gebring het.
Lees Ook: Concordia se hokkie bokkies blink uit
’n Kerk vol lig en 465 stemme
Met 465 leerders op die verhoog en elke sitplek gevul deur trotse ouers, grootouers en familie, het ’n tasbare gees van afwagting die warm kerksaal gevul. Wat gehoor is, was meer as net sang en spel- dit was ’n gemeenskap wat saam vier, saam glo en saam diepte vind in hul kinders se talent. Liedjies soos Little Drummer Boy en Lyfie het die gehoor op hul voete gehad.

Die tema ‘Liggies na LIG!’ het helder gestraal: ’n simboliese uitnodiging om die oorgang te maak van die blink, tydelike liggies van die seisoen na die ware, ewige Lig. Dié boodskap is nie net gespeel nie; dit is met eerlikheid en oorgawe geleef.
Lees Ook: Skrywer en Boston terrier bring leesavonture na Laerskool Concordia
Sorina Erasmus bring geloof
Saam met die leerders en personeel het Sorina die storie van Christus se geboorte op ’n vars, kinderlike en opregte manier help hervertel. Haar energie en warmte het die produksie ’n professionele, maar steeds deeply persoonlike karakter gegee. Deur haar optrede en teenwoordigheid is die gehoor herinner dat die vreugde van Christusfees veel meer is as geskenke, Kersvader en kersboomliggies- dit lê in dankbaarheid, geloof en die vreugde van gee.











