Local news

Waatlemoenpret skop Baanbreker Voortrekkers se jaar af

Lag en lekkerte het geheers toe die Baanbreker Voortrekkers hul jaar met ’n vrolike waatlemoenfees afgeskop het.

Daar wag vanjaar ’n jaar vol opwinding vir die Baanbreker Voortrekkers.

Die kommando het op 19 Januarie 2026 op ’n prettige wyse afgeskop met die jaarlikse waatlemoenfees, ’n hoogtepunt op hul kalender.

Dit was ’n vrugtevolle dag waartydens leerders voor aanvang van die fees op aandag gestaan het en belangrike inligting aan hulle meegedeel is.

Met stoute glimlaggies het die leerders in rye gestaan om ’n waatlemoen te kry waarmee hulle hul maats kon smeer. Dit was nie lank voordat die opwinding behoorlik vlamgevat het nie.

Leerders het rondgehardloop om seker te maak dat almal met waatlemoen bedek is, terwyl ander geskarrel het om te keer dat hulle self nie ook taai word nie.

Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers vier mylpaal van 45 jaar

Die gelag wat die atmosfeer gevul het, het dit duidelik gemaak dat die kinders dit terdeë geniet het. Ná afloop van die fees is daar ook gesorg dat alles opgeruim is.

Baanbreker Voortrekkers
Lede van die Baanbreker Voortrekkers tydens die waatlemoenfees.

Luzinda Saunders van die kommando het die geleentheid as ’n groot sukses beskryf.

“Die kinders het dit baie geniet en ons is opgewonde om ’n paar nuwe lede by ons te verwelkom. Ons sien uit na die jaar wat voorlê. Hierdie kwartaal vier ons die kommando se 46ste bestaansjaar, asook Internasionale Moedertaaldag en Melktertdag. Ons gaan ook weer die Cansa Shavathon ondersteun,” het Saunders bygevoeg.

Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers geniet boeresportdag

Die Voortrekkers is ’n kultuurbeweging wat veral die jeug toerus om as moderne Afrikaners, positiewe burgers en konsekwente Christene hulle roeping deur diensbaarheid uit te leef.

Die Baanbreker Voortrekkers kom gewoonlik elke Maandag van 16:00 tot 17:00 by Laerskool Baanbreker bymekaar.

Vir meer inligting, skakel die kommandoleier, Louise Botha, by 074 911 1225.

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button