Baanbreker vier 120ste bestaansjaar
Die skool het na die oorlog in 1902, as ‘n CNO-skool onder die naam Erasmus Zaal School met 'meneern' De Wet tot stant gekom.
Laerskool Baanbreker kyk nou opnuut met dankbaarheid terug na ‘n wonderlike bestaan nadat die skool onlangs 120 jaar oud geword het.
Die etos van die skool behels baie, sommige sigbaar (die netheid en gedrag van die leerders) en sommige onsigbaar (gesindheid, ingesteldheid, waardes en beginsels).
Volgens die skool se hoof, Amanda Bacon, word ‘n mens begeester deur die geskiedenis in hierdie spesiale bestaansjaar.
“Dit was die begin van ‘n unieke groep mense, gebore uit Baanbrekers.
“Daar word gedink aan die lewens wat aangeraak, gevorm en verryk is deur hul kontak met Laerskool Baanbreker en dan besef ‘n mens die ineengestrengeldheid van die toekoms en verlede. Die toekoms word tog op die verlede gebou.
“Winston Churchill het gesê hoe verder jy in die toekoms wil insien, hoe verder moet jy in die verlede terugkyk. Die oud-Banies het ‘n toekoms vir die nageslag gebou en ons kan net soos hulle aan buitengewone wonderwerke bou.
“Laerskool Baanbreker sien hulself as ‘n bouer wat al vir 120 jaar saam met geesdriftige lede (bouers) besig is om aan ‘n toekoms te bou. Dus is die hede (ons nou) net ‘n brug tussen die inspirerende verlede en die rooskleurige toekoms,” het Bacon vertel.
Sy voeg by dat by Laerskool Baanbreker glo hulle gesindheid bepaal ‘n mens se perspektief en die laerskooljare is belangrike vormingsjare, waartydens talente en vaardighede ontwikkel en geslyp word.
“Geestelike en kreatiewe horisonne word hier verbreed in ‘n poging om gelukkige kinders tot gelukkige jongmense en selfstandige volwassenes te transformeer.
“Mag Laerskool Baanbreker steeds van krag tot krag gaan in diens van die uitbreiding van God se Koningkryk en die verheerliking van Sy Naam, Aan God Almagtig, al die eer.”

Geskiedenis
Laerskool Baanbreker het na die oorlog in 1902, as ‘n CNO-skool onder die naam Erasmus Zaal School met ‘meneern’ De Wet tot stant gekom, met 30 leerlinge. Die ouers moes skoolgeld van vyf sjielings (50 sent) per maand betaal.
Op 18 Mei 1911 word die skool se naam na Boksburg East School verander.
Daarna skuif die skool na die nuwe gebou in Leeuwpoortstraat met 39 leerlinge op 10 Desember 1930. Op 1 Mei 1934 is die goedkeuring vir naamsverandering na Baanbrekerskool verleen.
Op 21 Februarie 1967, vergesel deur die provinsiale argitek en die skoolraadsekretaris, is die planne vir die oprigting van ‘n nuwe skoolgebou op ‘n terrein in die Parkrand woongebied goedgekeuer.
Op 5 Septemer 1969 word die hoeksteen van die nuwe skoolgebou deur die direkteur van onderwys, Dr AL Kotzee, gelê.
Tydens Banies se 100 bestaansjaar was daar groot feesvieringe by die skool, waar mense van heinde en ver gekom het om deel te wees van die naweek se pret en plesier onder leiding van die destydse hoof , TW Hoffmann.
Die skool se beheerliggamvoorsitter, Dewald Kruger, merk op ‘n mens besef nie altyd hoe lank ‘n 120 jaar is nie.
“Tydens die bestaan van die skool het twee wêreldoorloë plaasgevind, twee politieke magsveranderings is teweeggebring, twee pandemies is deurstaan, verskeie ekonomiese insinkings en daaropvolgende hersteltydperke is beleef, ‘n hart is met sukses oorgeplant, die vliegkuns ontwikkel en bemeester en die mensdom het die maan betree, om maar net ’n paar te noem.
“Ongekende deurbrake is gemaak op verskillende gebiede wat daagliks verder ontwikkel en uitgebrei word. Sonder opvoeding sou niks hiervan moontlik gewees het nie. Die toekoms is daar om ontgin te word. Baanbrekers word benodig.”
Boodskap van personeel
Onderwyserres Elna Killian is dankbaar dat sy vrylik in haar werksplek ons Here Jesus kan aanbid en leerlinge in my klas van Hom kan leer.
“Ek is dankbaar dat ek in my moedertaal kan onderrig en met my kollegas gemaklik kan kommunikeer.
“Ek is dankbaar vir oud en nuwe personeel, die wat hier is en die wat reeds afgetree het, se wysheid, ondervinding en hulle bereidwilligheid om jou te ondersteun en te leer.
“Banies se leerlinge het aan die einde van die derde kwartaal saamgestaan om te wys ons is almal baie dankbaar vir 120 jaar! Banies sal vir nog baie jare hul leuse voortleef: ons wil, ons kan, ons sal!”
Lees Ook: Laerskool Baanbreker spog met top presteerders
Lees Ook: Eerste vroulike hoof aan stuur van Laerskool Baanbreker



