Dylan ‘Dozer Jnr’ Kruger van Laerskool Concordia is al van jongs af passievol oor armdruk.
Die 12-jarige het ongeveer ses jaar gelede sy reis in die wêreld van armdruk begin, geïnspireer deur sy familie se liefde vir die sport.
“Ek het van jongs af dit geniet om my krag teen ander te meet,” het Dylan van Pain and Gain Arm Wrestling Club verduidelik.
Onlangs het Dylan ‘n groot hoogtepunt in sy armdrukloopbaan bereik toe hy by die nasionale kampioenskappe in die Paarl deelgeneem het in die o16 sub-junior kategorie, waar hy beide links- en regshandige afdelings gewen het.
“Ek voel baie trots op my prestasie,” het hy gesê.
Dylan is ‘Dozer Jnr’ genaam aangesien sy pa, Konrad Conradie, ‘Dozer’ gedoop is.
Die talentvolle atleet kyk op Koos ‘The Beast’ Fourie.
Sy droom is om eendag sy land te verteenwoordig op ‘n internasionale platform.
Met sy deursettingsvermoë en vasberadenheid is dit duidelik dat Dylan ‘Dozer Jnr’ Kruger ‘n helder toekoms in armdruk voorlê.
Conradie het sy trots uitgespreek oor sy seun se prestasie.
“Hy bereik hoogtes in sy lewe wat ek nooit bereik het nie. Ek sal hom help waar ek kan om sy drome te bewaarheid om oorsee deel te neem.”
Also Read: Billy Oosthuizen victorious at EFC 74



