Boksburg Stoeiklub spog met nuwe voorsitter
Die klub nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak.
As die nuwe voorsitter van die Boksburg Stoeiklub wil Arnold Cornelissen ‘n positiewe en opbouende omgewing skep vir kinders.
Die 50-jarige het onlangs die leisels oorgevat van Bennie le Roux.
Cornelissen het ongeveer twee jaar gelede betrokke geraak by die klub toe sy seun begin stoei het. Ongeveer nege maande later is hy aangewys as ondervoorsitter.
“Stoei is goed vir fisieke en geestelike ontwikkeling. Dit het ‘n positiewe invloed op die kinders. Dit help hulle met dissipline en leer hulle hoe om doelwitte vir hulself te stel en dit te bereik,” het hy bygevoeg.
Cornelissen het gesê dat dit by die klub alles oor die kinders gaan.
“Ons wil net hê die klub moet ‘n plek wees waar hulle hulself kan wees.”
Oor toekomsplanne meen Cornelissen dat hulle graag die klub wil uitbrei en nuwe toerusting wil aankoop.
“Ons het reeds herstelwerk aan die dak gedoen en die palisade geskuif, sodat daar meer veilige parkering vir die ouers is.”
Verder is hy trots om te sê dat drie van die klub se stoeiers is gekies is om hul land te verteverwoordig.
“Dit help dat ons goeie afrigters by die klub het.”
Cornelissen het gesê enige iemand kan betrokke raak by die klub.
“Jy moet net wil stoei. Selfs die ouers oefen saam. Stoei help jou ook met ander sportsoorte. Daar is ook rugbymanne wat Maandae by die klub oefensessies het.”
Die klub oefen Dinsdae en Donderdae van 18:00 tot 19:30. Vir meer inligting, kontak Cornelissen by 082 853 4486.
Lees Ook: Uitstekende uitslae vir Boksburg Stoeiklub



