Daar is weer rede tot opwinding vir aanhangers van plaaslike talent, want Boksburg se eie Franco van Zyl is terug met ’n vars enkelsnit wat reeds opslae maak, nog voordat dit amptelik verskyn het.
Sy nuutste lied, My Jodel Song, is ’n vrolike, oorspronklike huldeblyk aan die jodelkuns.
My Jodel Song is nie sommer net nog ’n lied nie. Dit is ’n persoonlike oorwinning vir Franco.
Bekend vir sy geloofsgegronde lirieke en innemende verhoogpersoonlikheid, verras hy nou met ’n energieke jodeltreffer wat nostalgie en nuwigheid kombineer. Die lied is in samewerking met sy vertroude vervaardiger, Vincent Gordon van VGS Entertainment, geskep. Dit is dieselfde span wat agter sy vorige albums My Geheim en Jesus is King gestaan het.
“Jodel het nog altyd ’n besondere plek in my hart, en ek wou dit op ‘n unieke manier uitbeeld wat eg is aan my. Hoewel ek al bekende jodelklassieke soos Sy Leer My Om Te Jodel, Jodel Liedjie en Heidi vertolk het, het daar steeds ’n verlange bestaan om ‘n oorspronklike jodellied te skep wat my unieke styl weerspieël. Hierdie visie het werklikheid geword tydens ’n kreatiewe sessie saam met Vincent.”
Erkenning wat weergalm
Die lied het reeds vrugte afgewerp nog voor dit vrygestel is toe dit op 10 April 2025 tydens die jaarlikse Melomaan Toekennings bekroon is as wenner in die omroepers keuse-kategorie. Dit het daartoe gelei dat Franco boonop vereer is as nuwe manlike kunstenaar van die jaar; ’n mylpaal vir die 27-jarige sanger waarvan die loopbaan nog maar pas begin blom het.
Wat lê voor?
My Jodel Song is slegs die begin van ’n nuwe hoofstuk. Franco bevestig dat nog ’n jodel-enkelsnit reeds in die beplanningsfase is en dit is iets waarna sy aanhangers met afwagting na uitsien.
Die lied is beskikbaar op digitale platforms, insluitend Spotify, Apple Music, iTunes, YouTube, Deezer en Amazon Music.
Franco se reis van gospel tot jodel illustreer nie net sy musikale veelsydigheid nie, maar ook sy bereidheid om grense te verskuif, altyd met integriteit en passie. Of jy nou in die kerkbank sit of op ’n dansvloer staan en jodel, een ding is seker: hierdie Boksburgse sanger is hier om te bly.
Lees Ook: Franco droom groot oor musiek
Lees Ook: Lu-Anél maak steeds golwe in die musiekbedryf



