Justin Coetzee leef tussen sirenes en snitte
Hy is gereed om sy eerste oorspronklike enkelsnit met die wêreld te deel.
Wanneer die sirenes stil raak en die rook begin lig, trek Justin Coetzee (37) van Ravenswood nie net sy brandweerbaadjie uit nie. Hy sit sy kopfone aan en duik kop eerste in ’n ander soort nood – die soeke na perfekte klank.
In sy wêreld loop die adrenalien van nooddienswerk en die hartklop van musiek hand aan hand.
“Dit is ’n familie ding. My pa is al meer as 30 jaar ’n vrywillige brandweerman, my ma ’n kapelaan. Ek en my broer het tussen die verkeersbeamptes en brandweervoertuie grootgeword,” het Justin vertel.
Maar dit is nie net rooi ligte en blou flitse wat sy wêreld kleur nie. Dis ook versterkers, mikrofone en digitale mengtafels.
“Musiek was nog altyd deel van ons huis. My oupa en oom is baie musikaal. Ek en my broer het al van laerskooldae saam met musiekmense gewerk – toerusting gedra, opgestel. Dit was hoe ons sakgeld verdien het.”
Teen matriek het Justin sy eerste klanktoerusting gekoop en begin klank doen vir vriende se partytjies. In 2002 het hy sy eerste klankmaatskappy JC’s UDE gestig, wat in 2015 herdoop is tot die nou bekende Kliphard Records.
Van noodhulp tot noodvlaag
Sy twee wêrelde mag teenstrydig klink, maar vir Justin is daar ’n verrassende harmonie tussen nooddienswerk en musiek.
“My kunstenaarsvriende ‘misbruik’ my altyd vir noodhulp tydens optredes. Ek is amper ’n ambulans in denim,” skerts hy.

Tog skuil daar ’n ernstiger kant agter die grappe. Die intense aard van sy werk as nooddienswerker vind dikwels ’n emosionele uitlaatklep in musiek.
“Dit is my ontsnappingsplek. Ek, ’n paar oorfone en ’n mikrofoon is hoe ek verwerking vind ná moeilike oomblikke.”
’n Leefstyl van klank
Deesdae is musiek nie net ’n passie nie; dit is sy werk. As klankingenieur eet, drink en slaap hy musiek.
“Ek kan nie regtig sê dis werk nie. Dis liefde met ’n salaris.”
En wat die hoogtepunte betref het hy ’n indrukwekkende lys van sy klankingenieur-sertifikaat tot ’n jaar as DJ van die Jaar op DStv se Four Weddings, en samewerking met groot name soos Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Dr Victor en vele meer.
Nou staan hy op die drumpel van nóg ’n mylpaal, sy eerste oorspronklike enkelsnit, Aan My Sy, wat binnekort op alle digitale platforms vrygestel word.
Raad vir die dubbelpad-tapper
Vir diegene wat probeer om ’n veeleisende werk met ’n kreatiewe passie te balanseer, het Justin wyse raad: “Hou aan klim. Die uitsig van bo af is die moeite werd. Hou jou ‘day job’ tot jy dit gemaak het. Gebruik negatiewe kritiek as bakstene vir ’n soliede fondament. En onthou, nie almal het goeie smaak nie!”
’n Lewe van balans en brandpunt
Vir Justin is daar nie ’n skeidslyn tussen sy beroepe nie; net ’n ritmiese oorgang van een passie na ’n ander.
“Albei beroepe leer jou dieselfde les: niks in die lewe kom maklik nie. Jy moet hard werk, toegewyd wees, en die passie moet jou dryf. Dis hoe jy iets van jouself maak.”
En in Justin se geval? Hy maak nie net iets van homself nie, hy maak musiek en verskil, elke dag, in elke rol.
Also Read: Lu-Anél maak steeds golwe in die musiekbedryf
Also Read: Plaaslike musikant wil mense herinner hul is waardevol



