Met nuwe musiek en ‘n groot skuif, is 2026 ‘n besige jaar vir Vrede.
Die Boksburg-Noord-duo Vrede staan op die drumpel van ’n nuwe era met die vrystelling van hul eerste vollengte album, Huistoe, wat in Maart op alle digitale platforms beskikbaar sal wees.
Die Boksburg-Noord-duo Vrede staan op die drumpel van ’n groot mylpaal: hul eerste vollengte album, Huistoe, wat in Maart op alle digitale platforms beskikbaar sal wees.
Storm Opperman en Francois Roux sê hulle fokus tans daarop om soveel moontlik nuwe musiek uit te bring sodat luisteraars hul styl en lirieke beter kan leer ken.
“Die eerste doel was om ’n katalogus saam te stel, sodat mense kan verstaan watter tipe musiek ons maak. Dit was ook een van ons doelwitte om ‘n album uit te reik en ons voel bevoorreg om dit te kan doen,” het Storm gesê.
Also Read: Dominique Burger ontbloot nuwe kant met gesellige klank
Die album se titelsnit is reeds in Desember vrygestel, en die volledige album bevat agt snitte. Vyf daarvan is nuwe liedjies, terwyl drie reeds as enkelsnitte uitgereik is.
Vrede sê hulle is dankbaar vir die goeie reaksie op hul werk, al volg hulle nie altyd die kommersiële bloudruk van die mark nie. “Dit neem langer om in mense se harte in te kom, maar die beloning is groot,” sê hulle.
Die duo het ook hul samewerking met Loki Rothman, ervare vervaardiger en kitaarspeler, beklemtoon. Dit het hulle gehelp om hul styl te verfyn en nuwe genres te verken.
“Ons het beweeg van soft rock na alt contemporary en reggae,” het Roux bygevoeg.
Aanhangers kan ’n Vrede-optrede by die Tankwa Drome-fees in Maart sien, waar hulle vir die derde agtereenvolgende jaar optree. Daarbenewens beplan hulle privaat funksies en ander optredes.
Vrede het ook bevestig dat hulle Boksburg gaan verlaat om ’n nuwe hoofstuk aan te pak by ‘n tweede tak van Vonk Musiek in die Kaap.
“Dit is ’n bittersoet oomblik. Ons gaan die mense en die alledaagse dinge wat Boksburg so spesiaal maak, mis,” het Storm gesê.
Lees Ook: Plaaslike duo maak golwe in musiekbedryf
Met Huistoe wat naderkom en ’n vol optredekalender, lyk 2026 soos ’n jaar waarin Vrede se naam nie net in Boksburg nie, maar landswyd, harder gaan weerklink.



