
Martie de Beer is bloeiend uit haar kar gepluk en op die sypaadjie neer gesmyt voordat die booswigte weggejaag het. Haar nagmerrie ondervinding het Donderdagoggend gebeur toe sy om 5.20vm werk toe wou ry. Sy bly in ‘n tuinwoonstel in Derbylaan en het haar voertuig, ‘n nuwe wit Ford Figo, uit die motorhuis getrek. “Ek het by die hek uitgery en wou net uitklim om die hek toe te maak toe ‘n wit Jetta reg agter my stilhou,” het sy vertel.
“Die Jetta se ligte was nie aan nie en ek het dadelik besef dat ek in groot moeilikheid kon wees,” het Martie gesê. Sy kon daarin slaag om weer in haar voertuig te klim maar drie kapers was binne sekondes by haar . ‘n Vierde een het in die Jetta gewag. “’n Gestoeiery het ontstaan want ek het steeds probeer om my deur toe te kry,” het Martie gesê.
Sy is herhaaldelik in die gesig geslaan met ‘n vuurwapen en in die struweling het sy ook talle kneusmerke aan haar bolyf en arms opgedoen. “Ek het nie ‘n kans gehad teen drie mans nie en hulle het my uit die kar geruk en op die sypaadjie neergegooi voordat hulle in my kar en die Jetta weggejaag het,” het Martie gesê.
Sy is na ‘n dokter geneem waar sy behandeling ontvang het vir skok en die beserings aan haar gesig. Haar vorige voertuig is by die East Rand Mall gesteel. “Dit maak my kwaad want dit is my eiendom waarvoor ek betaal. Niemand anders het die reg om dit net te vat nie,” het Martie gesê. Enigiemand wat die polisie in die ondersoek kan help kan 011 744-4940 skakel.