CrimeEditor's noteNews

Vroue onwetend te midde van rooftog

‘n 60-Jarige vrou en haar niggie het Woensdagoggend opgeruimd en onwetend by die juwelierswinkel in die Mall@Carnival ingestap, terwyl vier mans besig was om dit te beroof.

Die rooftog het om ongeveer 10.30vm plaasgevind, en die vier rowers is saam met ‘n onbekende hoeveelheid makkers, wat buite op hulle gewag het, steeds op vrye voet.

Elsie de Beer vertel dat sy en haar niggie, Lenie Kruger (58), elke Woensdag na die inkopiesentrum gaan.

“Ons was eers by ‘n winkel oorkant die juwelierswinkel en het daarheen gegaan omdat Lenie na ‘n ring wou kyk,” het Elsie vertel.

“Ons het die vier mans gesien wat soort van rondgestaan het, en Lenie het aan die verkoopsvrou gevra om ‘n ring aan te pas.

“Net toe, het een van die mans na ons gedraai sy hemp opgelig en ‘n vuurwapen aan ons gewys.

“Hy het gesê: `This is a robbery’, en ons beveel om in ‘n hoek te gaan staan.

“Ek dink nie hulle was baie professioneel nie, want almal se rue was op ‘n stadium op ons gedraai en toe glip ek gou by die winkel uit.”

Elsie het die personeel van ‘n naby geleë winkel gevra om die polisie te kontak, maar is aangesê om by ‘n ander winkel hulp te soek.

“Ek het toe gesien hoe die rowers nogal doodluiters uitstap en daarna het ek skote hoor klap,” het sy vertel.

“Wat normaalweg ‘n baie rustige oggend van inkopies en uiteet sou wees het beslis in ‘n uiters opwindende een ontaard.

“Almal raas met my omdat ek by die winkel uitgeglip het, en ek weet ek het dalk ‘n groot kans gewaag, maar ek het op die ingewing van die oomblik gereageer.”

‘n Woordvoerder van die Brakpan SAPD het Vrydagoggend gesê dat geen arrestasies tot dusvêr gemaak is nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button