
Bets Braack (73) was ten tye van die voorval alleen by die huis, aangesien haar man, Ted, gou gery het om hul voertuig te laat naasien. Die booswig se planne is gedeeltelik in die wiele gery toe die Braack’s se skoonseun, Sias, en sy vrou, Hanlie, by die huis aangekom het .
Hulle het egter nie dadelik onraad vermoed nie en weggery. Dit was egter genoeg om die inbreker te ontsenu en hy het op die vlug geslaan. Volgens Sias, was sy skoonma om ongeveer 12-middag in die kombuis doenig.
“Sy was besig om te bak en het ‘n eierklitser in die eetkamer gaan haal,” het hy vertel. ‘n Onbekende man het intussen oor die hek of palisade gespring en die kombuisvenster gebreek.
“My ma het dit gehoor en gedink dit is koekpanne wat val,” het Sias gesê. “Toe sy na die kombuis terugkeer het die man reeds deur die venster geklim en was hy in die kombuis. “Hy het my ma met ‘n mes gedreig en haar na die slaapkamer gedwing, waar hy vir juwele, geld en vuurwapens gevra het.
“Ons was in die omgewing en het besluit om gou by ons ouers te gaan tee drink.” Sias en Hanlie het voor die huis stilgehou en die toeter geblaas, soos hulle altyd maak. “Toe ons geen reaksie kry nie het ek die huisfoon geskakel, en toe dit nie beantwoord word nie het ons aangeneem dat ons ouers nie tuis was nie,” het hy bygevoeg.
Intussen het die inbreker, wat ook die toeter gehoor het, vir Bets beveel om op haar maag op die bed te gaan lê. “Hy het haar hande met ‘n skoenveter vasgebind, maar sy het vir hom gesê dat dit haar kinders is wat by die hek toeter blaas en dat ons ‘n sleutel het.”
Blykbaar het die man eers paniekerig geraak toe die huisfoon gelui het, waarop hy by die huis uitgevlug het. Sias het die man in die tuin gewaar, maar aangeneem dat dit tuinwerker is. “Hy het snaaks opgetree, maar dit het ons eers later besef,” het Sias gesê.
“Ons het by ‘n naby geleë winkel gaan melk koop, met die doel om weer ‘n draai by die huis te maak,” het Sias vertel. Bets kon haarself, nadat die man op die vlug geslaan het, loswikkel en het vir Sias gekontak.
“Ons was byna by die huis en my ma kon vir my ‘n beskrywing van die man gee,” het Sias gesê. Hy het ‘n man wat aan die beskrywing voldoen het opgemerk, maar was nie heeltemal seker nie.
“Ons sou later, nadat ek weer met my skoonma gepraat het, vasstel dat dit inderdaad die man was,” het hy vertel. “Hy het ‘n blou sakkie in sy hand gehad en dit was die sak waarin hy die juwele en selfoon wat hy gevat het geplaas het.”
Ted het kort na die voorval ook by die huis aangekom. Bets in nie beseer nie, maar is erg geskok. Daar is gereël dat ‘n kapelaan haar besoek. Die voorval word ondersoek.



