CrimeNews

Kapers gooi ma en kind (2) uit kar

‘n 31-Jarige vrou is Vrydagoggend deur drie kapers by ‘n huis in Brakpan-Noord ingewag, waar sy elke oggend ‘n persoon wat saam met haar ry, oplaai.

Die vrou het versoek dat haar naam nie gepubliseer moet word nie.

Volgens haar man ry sy elke oggend min of meer dieselfde tyd vanaf hul huis in Brakpan-sentraal na Malanstraat, waar sy die ander persoon oplaai.

“Ek glo die kapers het haar al ‘n rukkie lank fyn dopgehou, want dit is asof alles net mooi volgens hul plan verloop het,” het haar man gesê.

Die vrou het voor die huis stilgehou en die passasiersdeur oopgessluit.

Die oomblik toe sy dit doen het ‘n man dadelik die deur oopgepluk, in die voertuig gklim en ‘n vuurwapen teen haar kop gedruk.

‘n Tweede kaper het haar deur oopgemaak en haar veiligheidsgordel self losgemaak.

“My vrou het op dié stadium gevra of sy net ons seun (2), wat in sy karstoeltjie op die agtersitplek was, kon uittel.”

Die kapers het haar toegelaat om dit te doen en toe sy die kind in haar arms het, het hulle haar en die kind uit die voertuig gepluk en op die sypaadjie neergestamp.

Die twee kapers het in haar Citi Golf weggejaag.

‘n Derde makker, wat in ‘n ligkleurige voertuig gewag het, het saam met hulle weggery.

Al die vrou se persoonlike besittings, soos haar handsak en selfoon, was ook nog in die motor.

“Ek is baie dankbaar dat my vrou en kind ongedeerd hiervan afgekom het,” het haar man gesê.

“Dit is belangrik dat mense weet dat dit op enige tyd en op enige plek kan gebeur.”

Die voorval word deur die SAPD ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button