Donderdag het wonings in Rangeviewstraat (Dalpark), Elffersstraat (Minnebron), Lotslaan (Kenleaf) en Ellisstraat (Brakpan-Noord) deurgeloop.
Vrydag het inbrekers huise in Wilkomstraat (Brakpan-Noord) en Malanstraat (Brakpan-Noord) geteiken, en Saterdag is daar helder oordag by ‘n huis in Biggslaan (Brakpan-Noord) ingebreek.
Donderdagaand was motordiewe in Moceculestraat (Vulcania), asook in Wootenstraat (Brakpan-Noord), aktief.
Vrydagaand is ‘n Mazda 323 in Kitzingerlaan (Brakpan-sentraal) gesteel en ‘n Honda Ballade uit die parkeerarea van die Mall@Carnival.
Saterdagaand het diewe by ‘n voertuig in Hamiltonlaan ingebreek en ‘n skootrekenaar gesteel. ‘n Fiets wat op die perseel was is ook gegaps.
Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat inwoners te alle tye die basiese veiligheidsmaatreëls moet toepas.
“Sluit deure en hekke, maak vensters toe (veral saans), bring sekuriteitsligte en -stelsels aan, moenie goed soos speelgoed en fietse in die tuin laat rondlê nie en parkeer voertuie op veilige plekke,” was Joubert se raad.
“Dit is ook noodsaaklik om jou bure te ken en te vertrou.
“Wanneer iemand vir ‘n ruk weggaan is dit goed as iemand ‘n ogie oor jou eiendom kan hou.
“Die sektorpolisieëringsvoertuie beweeg ook deur die woonbuurte en dit is noodsaaklik dat inwoners die kontaknommers van die voertuie byderhand hou.” (Dit word van tyd tot tyd in die Herald gepubliseer.)
Joubert het ook gemaan dat die publiek onder geen omstandighede voorvalle van huisbrake moet indien wanneer dit nie werklik plaasgevind het nie.
“Ons ondervind dat die publiek dit wel doen om valse eise teen versekeringsmaatskappye in te dien,” het hy gesê.
“Ons werk nou met hierdie maatskappye saam en ‘n persoon wat homself daaraan skuldig maak staar ‘n boete of selfs tronkstraf in die gesig.”