Geen keer aan dié boetie en sussie nie
Daar is net geen keer aan die ses-jarige Natalie Krause van Dalpark wanneer sy aan ‘n model- of skoonheidskompetisie deelneem nie.

Die Herald het al voorheen oor die fyn blondekoppie berig, wat sedert sy modelwerk begin doen het 64 titels agter haar naam kan skryf.
Die masiewe aantal titelserpe en krone wat in haar ouers, Mariette en Deon Krause, se huis opgestapel is, is bewys van die kind se ongelooflike talent wanneer sy op die loopplank klim.
Die titels wat sy onlangs ingeryg het is gesogte titels, waar net die beste van die bestes deelneem, en sluit onder meer in, SA Top Model, Miss Northern Gauteng, Tiny Queen of SA, Best Model SA, Tourism SA, Supreme Queen, en die afgelope naweek het sy ook met die Tiny Miss Gauteng titel weggestap.
Dit is egter deesdae nie net Natalie wat haar beste voetjie op die loopplank voorsit nie.
Haar ouer broer, Evan (7), het self onlangs begin om aan kompetisies deel te neem en sedert Mei maand het hy al 16 titels verower.
“Evan gaan al die afgelope paar jaar elke keer saam met ons wanneer Natalie aan ‘n kompetisie deelneem en ek dink hy het met tyd baie ondervinding opgedoen, alhoewel hy nooit self deelgeneem het nie,” het Mariette gesê.
“Hy het gevra of hy ook ‘n beurt kon kry en ons het hom toegelaat; nou is hy net so gemaklik en tuis op die loopplank soos Natalie.”
Van die titels wat Evan gewen het sluit in Mr Matlosane junior, Face of the North, SA Top Model, Best Model SA (tydens die kompetisie het hy ook sy sussie uitgestof en was die algehele wenner naamlik Overall Best of the Best).
Hy is ook die afgelope naweek as Little Mr Gauteng aangewys.
Die twee kinders ontvang spesiale afrigting deur Valerie Begbie, van Vogue, in Pretoria. Dit beteken dat pa Deon hulle elke Donderdagmiddag na Pretoria neem vir dié doel.
“Valerie is ongelooflik goed en baie van die kinders se sukses is aan haar te danke,” het Mariette gesê.
‘n Groot gedeelte van die gesin se lewe draai om die modelwêreld. Daar gaan bykans nie ‘n naweek verby dat hulle nie aan ‘n kompetisie deelneem nie.
“Dit neem baie van ons tyd in beslag, maar ons doen dit saam as ‘n gesin en beide die kinders geniet dit baie,” het Deon gesê.
“Ons kinders verstaan dat hulle altyd hul beste moet gee en die vreugde is groot as hulle wen, maar hulle weet ook dat daar kere sal wees wanneer hulle nie wen nie, en dit is ook nie ‘n probleem nie,” het Mariette bygevoeg.
Baie van die kompetisies waaraan die kinders deelneem verg meer as net ‘n paar draaie op die loopplank.
“By die meer gesogte kompetisies word daar onderhoude met die deelnemers gevoer, foto’s word geneem en daar word van hulle verwag om verskillende bewegings op die loopplank uit te voer,” het Mariette gesê.
Vir Natalie en Evan is dit duidelik nie ‘n probleem nie en die twee gaan waarskynlik veroorsaak dat hul ouers een van die dae ‘n groter huis moet koop vir al die pryse, titelserpe, krone en trofeë waarmee hulle elke naweek huis toe gaan.