Moet die Pannefees nie misloop
Alles is slaggereed vir die Pannefees wat Vrydag en Saterdag, 4 en 5 Oktober, op die sportgronde van Laerskool Die Arend, deur die NG Kerk, Brakpan Gemeente, aangebied word.

Die hekke sal om 2nm open en om 6.30nm word ‘n straatmyl vanaf die VC Super Spar in Dalview gehardloop. Dit sal by die feesgronde eindig.
Saterdag sal ‘n groot optog, met vlotte, asook voertuie van die weermag en trompoppies, deur die dorp beweeg.
Die optog sal om 8.30vm vanaf die Sherwood inkopiesentrum in Brakpan-Noord vertrek en in Voortrekkerweg op beweeg, na die Arend se sportgronde.
‘n Heerlike dag van vermaak, met ‘n propvol arenaprogram wag op die feesgangers.
Sangers soos André uit die heupe, Chantell, Ilana, Dries, Kyle, Danny Tanner, Wilma-Dee, Zane, Chantél, Cicely en Telchan gaan deur die loop van die dag optree.
Daar sal ook ‘n uitstalling van veteraan motors en motorfietse wees.
Die honde-eenheid van die SAPD gaan ‘n vertoning lewer en daar sal baie ander vermaak en vertonings deur die loop van die dag aangebied word.
‘n “Paintball”-baan gaan opgerig word en dié wat nie te skrikkerig is nie kan ‘n draai in die spookhuis gaan maak.
Jonger kinders kan in roeibootjies baljaar en ‘n groot verskeidenheid eetgoed sal te koop wees.
“Ons beplan ‘n groot fees en ons nooi almal uit om die twee dae se aktiwiteite saam met ons te kom geniet,” het ‘n organiseerder gesê.
“Daar gaan beslis genoeg vermaak vir oud en jonk wees.
Die hekke open more om 8vm tot laat
.