Seun (12) by kragpaal op sypaadjie geskok
‘n 12-Jarige seun is Donderdagoggend beseer, toe hy aan die ankerkabel van ‘n kragpaal, wat op die sypaadjie, meters van sy ouerhuis staan, geraak het.
Kevin Kuilder (12) het ‘n ernstige brandwond aan sy hand opgedoen en kon homself nie van die kabel bevry nie.
Sy ma, Lee-Anne, wat sy angsgille gehoor het, het na hom gehardloop en haar kind van die kabel weggeruk. Sy is self in die proses geskok.
Lee-Ann het vertel dat Kevin en sy jonger sussie, Anuscka (7), net voor 9vm na ‘n naby geleë winkel gestap het, om lekkergoed te koop.
“Kevin moes met sy hand aan die ankelkabel geraak het,” het sy gesê.
Die paal is slegs ‘n paar meter van die Kuilders se huis in Gardinerlaan.
Inwoners van die huis langs die Kuilders het Kevin se hulpkrete gehoor en uitgegaan, maar Lee-Anne was reeds besig om haar kind te hulp te snel.
“Hy het daar gelê en ruk en hy kon nie sy hand van die draad afkry nie; ek het nie eens twee keer gedink nie en my kind weggeruk,” het Lee-Anne gesê.
‘n Ambulans is ontbied en Kevin is op die toneel behandel voordat hy na die Verre Oos-Randse Hospitaal geneem is.
“Ek gaan die saak nie hier laat nie. Dit is onaanvaarbaar dat ons kinders nie eens veilig is wanneer hulle op ‘n sypaadjie loop nie,” het ‘n ontstelde Lee-Anne gesê.
Werknemers van Ekurhuleni het pas na die voorval opgedaag en was in die proses om die herstelwerk te bespreek toe die Herald die toneel verlaat het.
Die Herald het die Ekurhuleni Metro vir offisiële kommentaar genader. Sodra dit ontvang word sal dit gepubliseer word.



