Local newsNews

Hael en reën rig groot skade aan

Talle inwoners van die dorp het Woensdag en Donderdag skade gelei, as gevolg van die erge reën en hael wat oor groot dele van die dorp uitgesak het.

‘n Swaar bui reën, wat Woensdagmiddag net na 5nm uitgesak het, het paaie en huise oorstroom en talle motoriste gestrand gelaat.

Die Lubbe-gesin, van Buxtonlaan, in Dalview, was een van die die gesinne wie se wonings oorstroom is.

Leandra Lubbe vertel dat die tuinwoonstel, waarin hulle woon, heeltemal onder water was.

“Ek het lanklaas soveel reën gesien en dit het nie lank geneem voordat die water by ons skuifdeur begin instroom het nie,” het Leandra gesê.

“Ons het gered wat ons kon, maar die groter meubels het alles nat geword.”

Sy glo dat die situasie verhoed kon word indien die stormwaterdreine in die straat nie verstop was nie.

“Daar is vyf sulke dreine in die nabye omgewing en almal was verstop,” het sy gesê.

Donderdagaand het die Pretorius-gesin, van Koos Vorsterstraat, ook groot skade gelei toe die weerlig ‘n reuse Sipresboom, wat al vir jare in hul erf staan, tref.

Marie Pretorius was ongeveer 8m in die kombuis toe die weerlig slaan.

“Daar was ‘n verskriklike slag, gevolg deur ‘n eienaardige geraas toe die boom omval,” het sy gesê.

Die boom het reg voor hul hek geval, wat veroorsaak het dat niemand met hul voertuie in of uit kon ry nie.

Die voormuur en die muur tussen die Pretoriuse en hul bure is ook beskadig.

“Dis ‘n groot jammerte. Die res van die boom, wat staande gebly het, sal waarskynlik nou ook vrek. Ons voer die wilde voëls in ons tuin en daar was baie voëlnessies in die boom,” het Marie gesê.

‘n Hewige haelstorm wat Donderdagaand sowat 20 minute geduur het, het ook skade in die Brenthurst omgewing aangerig.

Hannelie Bruwer, van Duncanstraat, het aan die Herald gesê dat daar byna niks van haar tuin oor is nie.

“Die haelkorrels was nie baie groot nie, maar dit het hard en lank genoeg gehael om al die plante in ons tuin stukkend te slaan,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button