Elke Stoffie het heeldag lank sy kant op die pawiljoene sowel as op die baan gebring, en hul gedissiplineerdheid en deursettingsvermoë het aan die einde van ‘n lang dag die knoop deurgehaak.
Stoffberg se seunsatletiekspan het ook nie teleurgestel nie, en het die trofee vir die beste seunstotaal tydens die byeenkoms gewen.
“Dit was ‘n uiters opwindende atletiekbyeenkoms, met die eerste plek wat die hele dag tussen Delmas, Oosterlig en Stoffberg gewissel het,” het ‘n woordvoerder van die skool gesê.
“Aan die einde van die dag, nadat Stoffberg se o-19 seuns aflosspan ‘n oortuigende oorwinning in die laaste item van die dag behaal het, het vreugde geen perke geken toe Stoffberg as seunswenners aangekondig is nie,” het die woordvoerder bygevoeg.
Renier Robbertse is as beste senior seuns baanatleet van die dag aangewys, Terence Minnie as die beste senior seuns veldatleet van die dag, en Carli Coetzee as beste junior dogters veldatleet van die dag.



