CrimeNews

Man val vrou en kleinkind met skroewedraaier aan

‘n 56-Jarige vrou en haar kleindogter (11) is Dinsdag helder oordag deur ‘n man, wat met ‘n skroewedraaier gewapen was, aangeval.

Anita Pretorius het ‘n wond aan haar arm opgedoen toe die booswig wild na haar gesteek het.

Dit was nadat hy na Chereé-Ann Coetzer (11) se kop gemik het met die skroewedraaier. Sy het afgebuk en die man kon gelukkig nie daarin slaag om haar raak te steek nie.

Die ouma en kleinkind het Dinsdag ongeveer 4.30nm vanaf ‘n vulstasie in Dalview na die Zonnebloem Kompleks, wat nie ver daarvan geleë is nie, gestap.

“Ons het nog rustig geloop en gesels toe ek harde voetstappe agter my hoor. Ek het eers gedink dit is Chereé-Ann wat speel, maar toe ek weer sien was daar ‘n man reg by ons,” het Anita vertel.

Die aanvaller het dadelik die kind se sakkie, wat om haar skouer was, afgepluk en na haar kop gesteek met die skroewedraaier.

“Gelukkig het Chereé-Ann afgebuk en die man het haar nie raakgesteek nie. Ek het begin skreeu en hy het my in die bo-arm met die gesteek,” het Anita vertel.

“Toe hy die tweede keer na my steek het ek dit reggekry om hom in die gestig te stamp.”

“Ek het nie opgehou gil nie en die man het in die mielieland, wat teen die pad grens, verdwyn. Hy het net so vinnig verdwyn as wat hy verskyn het,” het Anita gesê.

Chereé-Ann se selfoon en ander persoonlike besittings was in die sakkie, wat die man van haar skouer afgeruk het.

‘n Motoris het stilgehou en die geskokte ouma en haar kleindogter gehelp.

“Ek en Chereé-Ann geniet dit om te stap maar ons sal dit beslis nie weer doen nie. Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as die man haar in die kop of gesig moes gesteek het,” het Anita gesê.

Volgens haar het die man ‘n bruin baadjie en ‘n hoed gedra.

“Ons is baie dankbaar dat ons nie erger seergekry het nie. Dit was ‘n baie onaangename en vreesaanjaende oomblik vir ons albei,” het Anita gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button