Laat die lagspiere werk
Die interessante en skreeusnaakse verhoogstuk, My Boetie se Sussie se Ou, is tans tot 1 Junie in die Theatre of Marcellus, by Emperors Palace, te sien.
As jy dink jou lewe is ingewikkeld, plaas jouself vir ‘n oomblik in John Smith se skoene; daardie taxi-bestuurder van My Vrou se Man se Vrou met twee vrouens, en nou ook twee gesinne!
Dis reg, in My Boetie se Sussie se Ou is dit 18 jaar later en hou John steeds twee families in verskillende dele van Londen aan, beide dolgelukkig en salig onbewus van mekaar.
Maar wanneer sy twee tieners, ‘n dogter van die een gesin en ‘n seun van die ander, mekaar op ‘n internetkletskamer raak gesels en angstig besluit om mekaar in die persoon te ontmoet, versnel John se reeds gejaagde lewe tot in die hoogste rat, en moet hy spook om hulle uitmekaar te hou.
My Boetie se Sussie se Ou is Pierre van Pletzen se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney se Caught in the Net, en onder die regie van Frans Swart.
Swart sê My Boetie se Sussie se Ou is natuurlik een van daardie klugte wat oor al die elemente beskik om mense aan die lag te kry en aan die lag te hou.
“Mense moet net kom lag en ontspan oor die manewales van John Smith en sy twee gesinne.
“Die wetenskaplikes sê mos daar is niks wat ‘n mens beter laat ontspan as lag nie, en daarom is dit vir Lefra Produksies so ‘n eer om hierdie produksie op te voer,” het Swart vertel.



