Rowers skiet wag helder oordag
‘n Sekuriteitswag is vanoggend (Dinsdagoggend) in Lawrencestraat, Dalpark, deur rowers geskiet.
Volgens inligting, het die wag gereageer op ‘n huisalarm, wat by ‘n huis te 55 Lawrenestraat geaktiveer is.
Die wag het glo na die huis gegaan en was in die proses om ondersoek in te stel, toe ‘n onbekende hoeveelheid rowers in ‘n goud-kleurige Mercedes Benz voor die huis opdaag.
Hulle het ‘n swart Proton, wat in die oprit geparkeer was, gekaap, en ook verskeie skote op die sekuriteitswag geskiet. Hy is verskeie kere getref.
Die kapers het daarna in hul Mercedes en in die Proton weggejaag. Dié voertuig is minute later, verder op in die straat, teruggevind.
Die sekuriteitswag is na die Sunward Park Hospitaal, in Boksburg, geneem. Lede van die SAPD was gou op die toneel en het dit gefynkam vir leidrade.
Die saak van motorkaping en poging tot moord word ondersoek.



