Siekte kelder amper Suzie (100) se partytjie
Die 100ste verjaarsdagvieringe van Suzie le Roux is so byna in die wiele gery, toe dié inwoner van die Frank Mynhard Tehuis Donderdag in die hospitaal opgeneem is, met brongitis.
Die Herald het verlede week op die voorblad berig dat Suzie Maandag haar 100ste verjaarsdag sou vier.
“Ons het ‘n groot familie-saamtrek vir Sondag gereël en het bietjie benoud geraak toe my ma Donderdag in die Life Dalview Kliniek opgeneem is,” het haar dogter, Tina Sevenster (76), gesê.
Sondag was Suzie steeds in die hospitaal, maar die familie het reëlings getref dat sy darem vir so rukkie kon uitgaan om die geselligheid, wat vir haar gereël is, by te woon.
Maandag was daar weer benoude oomblikke toe dit gelyk het of sy haar verjaarsdag in die hospitaal sou deurbring.
“Gelukkig het my ma se toestand baie verbeter en is sy ontslaan,” het Tina gesê.
Daar was groot opgewondenheid by die Frank Mynhardt Sorgsentrum toe sy uiteindelik opgedaag het, en ’n reuse koek, wat deur Sherwood Pick n Pay gebak en geskenk is, in ontvangs geneem het.
‘n Groep werknemers van Pick n Pay, asook die bestuurder, André de Kock, het saam met inwoners van die Frank Mynhardt Sorgsentrum vir Suzie gesing, terwyl sy met ‘n groot glimlag gesit het.



