Vol program vir Stoffiefees
Die loodskomitee, wat verantwoordelik is vir die Hoërskool Stoffberg se Stoffiefees, wat in Oktober gaan plaasvind, het onlangs in Waterval-Onder vergader, om die voorlopige reëlings vir die fees te finaliseer.
Die komitee, bestaande uit Louw Pretorius, Arthur Flemix en Lodi le Roux, het die versekering gegee dat alles vlot verloop en dat daar ‘n genotvolle naweek op oud- en huidige Stoffbergers wag.
Die voorgestelde program vir die fees behels, onder andere:
n Vrydag, 17 Oktober om 7nm: ‘n konsert word in die Peet Aucampsaal by die skool gehou, met André Swiegers en Lieb Bester as gaskunstenaars.
* Saterdag, 18 Oktober, vanaf 9vm: ‘n spitbraai vir alle oud-Stoffies word by die lapa van die skool gehou. Arthur Flemix, lid van die loodskomitee vir die fees, het reeds aangedui dat hy die spitbraai sal borg, wat meebring dat belangstellendes wat die geleentheid wil bywoon feitlik gratis saam met ander oud-Stoffies sal kan smul en lekker saam kuier. By die aanvang van die spitbraai sal ‘n beoogde Oud-Stoffie Leerlinge Vereniging ook gestig word en ‘n bestuurskommitee vir die vereniging sal verkies word. Volgens die loodskomitee is dit noodsaaklik om so ‘n vereniging in die lewe te roep, om te verseker dat toekomstige skakeling tussen oud-leerlinge en die skool op ‘n vaste basis gebou kan word.
“Die feit is dat hierdie saak oudleerlinge van vier skole raak, naamlik dié van die oorspronklike Hoërskool Stoffberg, die Hoër Meisieskool Stoffberg, die Hoër Seunskool Stoffberg en die huidige Hoërskool Stoffberg,” het Lodi le Roux gesê.
“Om hierdie rede word daar ‘n ope uitnodiging aan oudleerlinge van al vier skole gerig om op Saterdag, 18 Oktober, 2014, saam met ons te kom feesvier,” het hy bygevoeg.
“Die loodskomitee wil ‘n spesiale beroep op oudleerlinge van die Hoër Meisieskool Stoffberg doen om van hulle te laat hoor. ‘n Konsep grondwet/gespreksdokument vir die Oud-Stoffie Leerlinge Vereniging is opgestel en is ter insae op die webblad van die Hoër Seunskool Stoffberg. Enige voorstelle ten opsigte van wysigings kan aan die lede van die loodskomitee voorgelê word.”
* Saterdag, 18 Oktober, om 6vm. ‘n Re?nie dinee vir die 1964 matrieks van die Hoër Seunskool Stoffberg word by die Cosy Corner Moth Klub, in Brenthurst, gehou. Die loodskommitee is nog op soek na die volgende matriekulante van 1964: Theuns Botha, Hans Britz, Piet du Plessis, Willie le Roux, Jacques Marais, Zach Muller, Corrie Prinsloo, M Strydom, Hendrik van Rooyen, Jurie Wessels en Hendrik Wilkens.
* Sondag 19, Oktober om 9vm: ‘n Dankdiens word in die NG Kerk Brakpan-Wes gehou en sal gelei word deur ds Willie van Rensburg, hoofseun van Hoër Seunskool Stoffberg in 1961. Ds Willie is geen onbekende in Brakpan nie, aangesien hy vir ‘n aantal jare predikant van die NG Kerk Brenthurst was. Na afloop van die dankdiens sal tee en koffie in die kerksaal bedien word, waar oudleerlinge vir mekaar totsiens sal kan sê.
Vir meer inligting oor enige van die bogenoemde byeenkomste kan daar met Louw Pretorius geskakel word by 083 625 6894, Arthur Flemix by 083 303 7407, Danie du Preez by 082 894 8906 of Lodi le Roux by 081 844 4154.



