Local newsNews

Huiseienaar sê genoeg is genoeg

Die eienaar van twee huise in Wendenlaan, wat vir maande reeds onwettig bewoon word, moes Saterdagoggend drastiese stappe neem om sy eiendom terug te kry.

Die twee huise is geleë in ‘n area wat erg gebuk gaan onder prostitusie, die handel in dwelmmiddels en drankmisbruik. Dit is ook alom bekend dat dié area vir die wetstoepassers ‘n groot kopseer is.

Nico Botha het besluit genoeg is genoeg en, nadat hy vir maande gepoog het om die mense op ‘n wettige manier en met die nodige kennisgewing uit sy twee huise te kry, het hy Saterdagoggend drasties opgetree.

Volgens Botha is die twee huise, wat reg langs mekaar in Wendenlaan geleë is, aanvanklik op ‘n goed georganiseerde wyse aan goedgekeurde individue verhuur.

“Soos dit maar in hierdie land en dorp van ons gaan, het al hoe meer en meer mense, waarvan sommige selfs onwettige immigrante is, die huise begin bewoon,” het hy gesê.

“Ek was op die ou eiende nie eens meer seker hoeveel mense daar gewoon het nie; ek het geen huur ontvang nie, maar daar was mense daar binne wat geld gemaak het deur kamers en selfs net ‘n lê-plek uit te huur.

“My hande was afgekap en waar ek ookal om hulp aangklop het, het dit op ‘n doodloop straat uitgeloop.”

Die huurders is, deur middel van ‘n prokureur, ‘n finale kennisgewing gegee om die huise teen 14 Mei te ontruim, maar dié stap het ook op dowe ore geval.

Saterdagoggend het ‘n keelvol Botha met ‘n span opgedaag om sy eiendom terug te neem.

Teen 7vm, terwyl meeste van die huisbewoners nog geslaap het, het Botha en sy span inbeweeg.

Onder die wakende oog van sekuriteitsmense is daar begin om die dakke van die huise, asook die vensters en deure, te verwyder.

Tientalle mense het gou uit die huise begin peuel.

In die tyd wat die Herald teenwoordig was, is daar ten minste 55 matrasse (waarvan die meeste dubbelbed matrasse was) uit die huise gedra.

Mense het hul besittings in sakke en plastiekhouers gepak en weggedra. Sommige het baie vinnig die hasepad gekies, terwyl ander by hul besittings op die sypaadjie bly sit het.

“Dit gaan nie vir my bloot oor die feit dat ek my eiendom moes terug kry nie,” het Botha gesê.

“Ons almal weet wat in hierdie dorp van ons aangaan; daar is ‘n toename in dwelmhandel en –misbruik, en prostitusie is ‘n alledaagse verskynsel.

“Dit is hoog tyd dat ons begin saam staan om hierdie euwels uit te roei en die mense wat onwettig hier is, en hulself skuldig maak aan misdade, vas te vat.

“Daardie mense het geen reg gehad om in my huise te woon nie. Hulle wou nie kontrakte teken nie en hulle het nie betaal nie; hulle moes doodeenvoudig uit.”

Verskeie verbygangers wat die gedoente Saterdagoggend aanskou het, het hul tevredenheid uitgespreek.

“In hierdie strate gebeur daar baie slegte goed en ons is bang. Dit is mooi om te sien dat iemand nou ‘n plan gemaak het,” het ‘n vroulike verbyganger gesê.

Botha het gesê dat hy nog nie heeltemal seker is oor die planne vir die eiendom nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button