Rower kom sy moses tee
Die gevaar en risiko’s wat gepaard gaan met die gebruik van kitsbanke het weer duidelik geword toe ‘n man hom fisies teen ‘n vermeende rower moes verset, toe hy wou geld trek.

Die voorval het verlede Vrydag by ‘n kitsbank in Brenthrust plaasgevind, toe ‘n inwoner, wat versoek het dat sy naam nie gepubliseer word nie, ‘n transaksie wou uitvoer. Dit was ongeveer 3nm.
“Ek is baie oplettend en het ‘n lang skraal en baie goed geklede man naby die bank opgemerk,” het die persoon gesê.
“Nadat ek my bankkaartjie ingevoer het, het die man nader gestap en gesê dat hy net sy strokie wou kry.”
“Hy het ewe skielik gesê dat jy my sou help en hy het sommer van die knoppies begin druk.”
“Ek het dadelik besef dat ek in die moeilikheid is en ek het die man met so hard ek kon van my af weggestamp.”
“Hy het geval en van sy makkers het hom te hulp gesnel,” het die man vertel.
Volgens die man het die booswigte in ‘n rooi Renault Mégan, wat geen nommerplate gehad het, weggery.
“Alhoewel die masjien my kaart terug gehou het, kon ek betyds by die bank uitkom om die nodige reëlings te tref,” het die man gesê.
“’n Mens is geneig om te dink dit kan nie met jou gebeur nie, maar dit kan,” het hy bygevoeg.
Kapt Joep Joubert, van die Brakpan SAPD, het gesê dat skelms gedurig met nuwe maniere vorendag kom om mense by kitsbanke te beroof.
Hy het die publiek gemaan om nooit te gemaklik by ‘n OTM te wees nie.
“Kyk altyd rond vir verdagte persone wat rondstaan en moet nooit enige hulp van ‘n vreemdeling aanvaar nie,” het Joubert gesê.



