Sypaadjie vrou sterf tragies
Die vrou wat bekend geword het as die ''sypaadjievrou'', weens die feit dat sy vir baie jare van haar lewe op die strate van die dorp gebly het, se lewe het Vrydag op ‘n tragiese wyse tot ‘n einde gekom.
Heidi Christie (28) het verlede Sondagaand op ‘n manier op die treinspoor by die Brakpan Stasie beland.
Volgens ‘n woordvoerder van die SAPD het ‘n aankomende trein haar skrams getref en het sy ernstige beserings opgedoen.
Die erg beseerde vrou het vir ‘n geruime tyd naby die spoor gelê voordat ‘n verbyganger haar gesien en hulp ontbied het. Sy is toe na die Verre Oosrand Hospitaal geneem.
“Ons is nog nie heeltemal seker wat gebeur het nie, maar ons is vasbeslote om uit te vind,” het haar stiefma, Sarie Roets, gesê.
Alhoewel Heidi opsigtelik ernstig beseer is, is sy verlede Maandagoggend ontslaan en het sy by haar ma, Rina Bawl (63), se huis in Taftlaan gaan aansterk.
“Volgens Roets het Heidi verlede Dinsdagoggend ‘n terugslag beleef. Sy het snaaks opgetree, ongewone geluide gemaak en ons het besluit dat sy moet terug gaan na die hospitaal,” het Roets gesê.
Heidi is weer opgeneem en is verlede Donderdag laat na die Charlotte Maxeke Hospitaal vervoer, om ‘n skandering te ondergaan.
“Sy het Vrydagoggend weer by die Verre Oosrand Hospitaal aangekom en sy het nie goed gelyk nie,” het Roets gesê.
Die jong vrou is Vrydagmiddag, om ongeveer 2nm, oorlede.
Die Herald het vir die eerste keer oor Heidi berig toe sy in 2011 saam met ‘n vriend op ‘n vuil matras op ‘n sypaadjie in Goodsweg gebly het. (Die mense kry swaar).
Dit was in die middel van ‘n bitter koue winter en sy was erg verswak as gevolg van alkoholmisbruik en ander gesondheidsprobleme. Sy kon skaars loop en bedags het haar vriend haar in ‘n rolstoel gestoot.
In 2012 het haar lewe ‘n drastiese wending geneem toe ‘n weldoener haar uit haar haglike omstandighede gered het en ingeneem het.
Die Herald het berig hoe Heidi ‘n totale gedaante verwisseling ondergaan het.
Sy was basies op die randjie van die dood en het ‘n skamele 28kg geweeg. Haar liggaam was oortrek van sere en haar tande, naels en hare het uitgeval.
Binne ses maande, onder die sorg van haar weldoener, het haar gewig opgeskuif na 51kg. Haar hare het mooi gegroei, die sere het verdwyn en sy was lus vir die lewe. (Sypaadjievrou se nuwe lewe).
Heidi het haar eie slaapkamer gehad en het dit selfs oorweeg om ‘n werk te kry.
Die omwenteling was egter van korte duur en sy het weer op haar ou gewoontes teruggeval.
Nie lank daarna nie, het sy weer begin rond swerf en was sypaadjies en bosse weer haar tuiste.
“Ons was uit die aard van die saak baie bekommerd oor haar, maar dit is hoe sy wou lewe en ons kon nie veel daaraan doen nie,” het Roets gesê.
Sy was ‘n bekende gesig in die dorp en mense het steeds hul hart oopgemaak en vir haar geld en kos gegee.
Haar hartseer pa, Felix Christie (65), het aan die Herald gesê dat sy kind nou kan rus.
“Ten spyte van die lewe wat sy gelei het was sy ‘n goeie mens en het ons nooit opgehou om lief te wees vir haar nie,” het hy gesê.
Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.




