Oud-Stoffies kan nou registreer
As deel van die beplande Stoffiefees gedurende die naweek van 17 tot 19 Oktober word daar op Saterdag 18 Oktober om 9vm ‘n Stoffberg Oudleerlinge Vereniging gestig.

Dit sal gevolg word deur ‘n spitbraai waar oudleerlinge geselig saam kan verkeer.
Om toelating tot die verrigtinge te verkry is dit egter noodsaaklik dat oudleerlinge van die oorspronklike Hoërskool Stoffberg, Hoër
Meisieskool Stoffberg, Hoër Seunskool Stoffberg en die huidige Hoërskool Stoffberg die nodige registrasievorms betyds voltooi.
Dit sal die reëlingskommittee in staat stel om genoegsaam voorsiening te maak ten opsigte van die spyseniering.
Registrasievorms is beskikbaar by die Hoërskool Stoffberg se kantoor, by Benn’s Apteek en by Adno’s Uitrusters. Beide die besighede is in Voortrekkerweg geleë. Die voltooide vorms kan dan by die skool ingehandig word.
“Na ontvangs sal ‘n amptelike lidmaatskapnommer aan die aansoeker per sms gestuur word,” het Lodi le Roux, een van die organiseerders gesê.
“Hierdie lidmaatskapnommer is ‘n permanente nommer, uniek aan die houer daarvan,” het hy bygevoeg.
“Die registrasievorm dien ook ‘n sekondêre doel, naamlik om ‘n databasis van oudleeringe saam te stel vir toekomstige gebruik.”
“Elke houer van ‘n amptelike lidmaatskapnommer van die Stoffberg Oudleeringe Vereniging sal die spitbraai gratis kan bywoon.”
“Die keerdatum vir bevestiging van bywoning is volgende Vrydag (3 Oktober).
Vir enige navrae en oor die kostes van nie-lede of metgeselle kan Lodi le Roux by 081 844 4154 gekontak word.



