Polisie soek inligting oor ongeluk waarin pa en seun sterf
Die Brakpan polisie is steeds besig met ‘n ondersoek na ‘n ongeluk, wat vroeër vanjaar, die lewe van ‘n pa en sy seun geëis het.
Die ongeluk het op 9 Augustus, om ongeveer 10.30vm, op die ou Lokasiepad plaasgevind.
Jan Marais (46) was aan die stuur van ‘n Toyota RXi en het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor.
Hy en sy seun, Juan (23), is beide uit die voertuig, wat gerol het, geslinger.
Jan is op die toneel oorlede en Juan is met ernstige nekbeserings per helikoper na die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg vervoer, nadat hy op die toneel gestabiliseer is.
Hy is twee weke na die ongeluk oorlede. Pa en seun is saam begrawe.
Enige persoon wat die ongeluk sien plaasvind het, of enige ander inligting, wat met die ondersoek kan help, kan verskaf, word versoek om die ondersoekbeampte, s-ao Dup du Plessis, by 011 741 4800 te kontak.



