Man te skaam om te sê hy bly in Brakpan
“Neatfreak” skryf per e-pos: My brief is is bedoel vir al die gewetenlose luiaards en morsjorse wat van ons dorp ‘n mini-ashoop maak.

En spesifiek aan jou (en jou soort), meneer, wat in Ellisstraat jou vullis in die park oorkant my huis neergesit het.
Ek het jou gesien. Ek het gesien hoe jy wag tot ek in die huis ingaan, en toe ek uitkom toe staan jou vullis onder die boom.
Ek het gesien hoe jy, jou vrou en kroos ‘n entjie aanry en kamtig houtjies optel, om die aandag af te trek van julle doen en late.
Ek het jou registrasie nommer geneem en ek gaan dit oorhandig aan die mense wat in die posisie is om jou en jou soort te beboet.
Aan jou en almal wat planne het om rommel te strooi, wees versigtig, veral in Ellisstraat, want ek en baie ander wat moeg is om agter varke skoon te maak, hou julle dop.
Ek haat ‘n vuil omgewing en gaan male sonder tal in die park skoonmaak. Ek leef nie in ‘n vullisblik nie.
Ek wil graag weet hoe lyk die huise van die wat rommel op ander se “drumpel” kom neersit.
Dit is ‘n feit dat, as jy nie respek het vir jouself nie, jy nie die omgewing om jou sal skoonhou of vir ander sal respek hê nie.
Ek het hoeveel male al gesien hoe winkeleienaars voor hulle plekke vee en skoonhou.
Hier is so baie lieflike mense wat die steunpilare en die trots in die gemeenskap is, maar hulle moet skaam en vernederd staan as ander grappe maak oor die dorp, en dit vir wie en vir wat?
My man wil byvoorbeeld nie eers meer sê hy kom van die dorp af nie; hy sê liewer vir mense hy bly op die plaas.
Hierdie dorp was as die tuindorp van Gauteng bekend en, toe ek hier aangekom het, was daar nêrens ‘n papier in sig nie. Kyk hoe lyk dit nou.
My suster, wil vir my kom kuier en sy dink al ek wil haar nie ontvang nie, maar ek is so skaam dat sy die vuil dorp sien dat ek behoorlik sidder.
Ek wil ‘n beroep op almal doen wat ander sien vullis neergooi om dit te rapporteer.
Swart sakke word blykbaar ook in die middel van die nag in die veld, op sypaadjies en in die voetpaadjie afgelaai. Die vermetelheid! Die vullis wissel van tamponne tot koffieblikke. Ek weet, want ek betaal my tuinier om te kom help optel, en ek vaar elke week met my geel tuinhandskoene die veld in.
Mense kom ons staan saam en verdryf die morsjorse uit ons midde.
Lees ook:
Destroying facilities is like cutting off your nose to spite your face
Illegal dumping a disgrace to the human race



