Die Anker se sewes is goed op dreef
Die eerste sewes rugbytoernooi van die jaar het op Hoërskool Die Anker se tuisveld afgeskop.
Tien skole, onder andere hoërskole Lichtenburg, Eldoraigne, Jeugland, Montana en Potch Volkskool, het aan die toernooi deelgeneem.
Die Anker se jong B-span het ’n harde dag beleef en het hulle beste wedstryd van die dag gespeel toe hulle vir Jeugland in die Bowl-finaal geklop het.
Die dag het egter ongetwyfeld aan die A-span van Die Anker behoort.
Die span het reeds vroegoggend puik rugby gespeel en al vyf hul poelwedstryde gemaklik gewen.
In die halffinaal het hulle vir Eldoraigne met 8-5 geklop en deurgedring na die bekerfinaal toe.
Met slegs drie minute se speeltyd oor het Heidelberg Volkies gelyk of hulle die kampioene gaan wees en het gemaklik met 19-5 voorgeloop.
Twee skitterende drieë in drie minute, deur Reynhardt Theron, het egter die telling gelykop met 19-19 na normale tyd gemaak.
Drie minute ekstra tyd in ’n ‘sudden death’ formaat het gevolg, maar JJ Keiser van Die Anker het slegs 18 sekondes nodig gehad om die wendrie vir Die Anker te gaan druk.
“Dit is baie belangrik om die eerste toernooi van die jaar te wen en die seuns het skitterende rugby gespeel,” het die afrigter Rocky Truter gesê.
“Ons gaan volgende naweek, met baie momentum, na Durban om in die Glenwood toernooi te speel,” het hy bygevoeg.



