Optog teen dwelms stuur duidelike boodskap
Sowat 300 inwoners het Saterdag die lengte van Voortrekkerweg gestap om hul misnoeë te kenne te gee oor die gebruik en onwettige verkoop van dwelms in die dorp.
Die groep, wat op Facebook as die Brakpan people against drugs/dealers bekend staan, is ondersteun deur lede van die Brakpan Radio Groep en die algemene publiek.
Mense van alle ouderdomme het deelgeneem aan die optog en daar was selfs talle kinders en ma’s wat hul babas en jonger kleuters in stootwaentjies gestoot het.
Die boodskap was duidelik: Die gemeenskap is moeg vir onwettige dwelmhandel in die dorp en dit moet uitgeroei word.
Mense het plakkate gedra met die bewoording: “Drugs will eat you alive”, “Drugs aren’t cool they make you look like a fool”, Moenie ryk word deur ander mense se lewe te verwoes nie, “Drugs kill our kids”, “Stop dealers now”, “We want sweets not drugs”, “Give our children hugs not drugs” en “If you do cocaine you’ll go insane”.
Die groep mense het vanaf die bopunt van Voortrekkerweg naby Pick n Pay af beweeg en uiteindelik voor die ou, vervalle Stasie Hotel in Stasieweg halt geroep.
Hier is die baniere en plakkate teen die muur van die gebou aangebring en die groep mense het luidrugtig te kenne gegee dat genoeg, genoeg is.
Dit is alom bekend dat dwelmverslaafdes, dwelmhandelaars en leeglêers die gebou as skuiling en blyplek gebruik.
’n Verklaring, wat voor die begin van die optog uitgelees is, het dit duidelik uitgespel dat die publiek keelvol is vir die dwelmsituasie in die dorp.
Daar word geëis dat die SAPD, die hof en ander rolspelers kennis neem van die euwel en dat daar aksie geneem word.
Een van die organiseerders het aangedui dat dit nie die laaste optog van sy soort is nie.
Kyk hier na meer foto’s van die optog:





