Bakkies Botha nou deel van die Haka-span
Die wêreld sal eersdaags ’n nuwe gesig sien wanneer die Haka uitgevoer word.

Dit is natuurlik die Tassie-Haka van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek.
Die bekende rugbyspeler, Bakkies Botha, sal voortaan as ambassadeur van die projek optree. Hierdie nuwe rol van die formidabele Botha wys ’n baie sagter kant, wat nie altyd op die rugbyveld gesien is nie.
As deel van die veldtog gaan Botha ’n groepie graad eens leer hoe om ’n eg Suid-Afrikaanse vorm van die bekende Nieu-Seelandse Haka te doen.
Die doel van die Tassie-Haka sal wees om mense bewus te maak van die nood onder die graad eens regoor die land.
Verskeie laerskole in Brakpan het al voorheen baat gevind by hierdie projek.
Helpende Hand het ’n opname gedoen onder meer as 200 skole wat in 2016 tassies gaan ontvang. Die doel van die opname was om seker te maak dat die inhoud van die skooltassie steeds relevant bly om die uitdagings van graad eens aan te spreek.
Dit het duidelik geword dat perseptuele en motoriese vaardighede twee van die grootste tekortkominge is wat leerprobleme en uitvalle onder graad eens veroorsaak.
Die Tassie-Haka is nie net ’n bewusmakingsprojek nie, maar vertel ’n storie van die inhoud van die tassie en hoe dit die graad eens se probleme aanspreek.
Die Helpende Hand Skooltassie bevat Unifix-blokkies,’n legkaart sowel as ’n witbord waarop daar geskryf kan word. Hierdie items oefen hand-oog koördinasie en stimuleer die ontwikkeling van motoriese en perseptuele vaardighede.
“Helpende Hand glo dat armoede aangespreek kan word deur in opleiding te belê, en dit begin reeds met die gevoel van hoop wat by graad eens geskep word wanneer hulle die nodige skoolgoed kry en hulle ’n gelyke geleentheid gebied word,” sê dr Danie Brink, Helpende Hand se uitvoerende direkteur.
Botha het pas sy laaste professionele rugbywedstryd gespeel nadat hy 15 jaar lank ’n gevreesde gesig op die rugbyveld was.
Botha se grootte en krag het hom ’n uitdagende teenstander gemaak wat gereeld in die moeilikheid beland het. Nietemin was hy ’n sportster waarna oud en jonk opgekyk het.
“Ek is baie opgewonde want van vandag af ondersteun ek Solidariteit Helpende Hand se Tassieprojek vir volgende jaar,” sê Botha.
“Daar sal meer as 4 700 tassies aan behoeftige graad eens geskenk word en die nood wat daardeur aangespreek word, is groot.
“Daar is baie kinders daar buite wat sukkel en om hierby betrokke te raak en selfs net ’n klein verskil in enige kind se lewe te maak, maak my baie bly en laat my met ’n glimlag saans gaan slaap.”
Elke skooltassie sal soos gewoonlik al die nodige skryfbehoeftes bevat, maar vanjaar sal daar ’n paar bykomende items wees. Die inhoud van die tassie moet daartoe bydra dat hulle “Eendag as ek groot is”-droom ’n werklikheid kan word.
Jy kan help om seker te maak dat hierdie kinders se “Eendag as ek groot is”-droom ’n werklikheid word. SMS “Tassie” na 38969 en skenk R10 of besoek www.tassie.co.za en borg ’n volledige tassie vir R250.



