Man probeer in dak wegkruip na hy by Mall@Carnival steel
‘n Man in sy vroeë twintigs is vanoggend (Woensdag) by die Mall@Carnival gearresteer nadat hy in die besit van gesteelde goedere gevind is.
Die man, wat aanvanklik deur die winkelkompleks se sekuriteit gearresteer en in ‘n kantoor aangehou is, het daarna deur ‘n plafon gebreek in ‘n poging om te ontsnap.
“Daar is aanvanklik gedink dat daar ‘n gewapende roof was,” het kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD gesê.
Lede van die EMPD se Berede Eenheid het gereageer op die klagte en kon daarin slaag om die man uit die dak van die sekuriteitskantoor te haal.
Die lede het verskeie ander, vermoedelik gesteelde goedere, in die man se voertuig gevind.
Die waarde van die goedere word op sowat R15 500 geraam.
‘n Klein hoeveelheid dwelmmiddels is ook in die man se besit gevind.
Volgens kapt Joubert sal die verdagte binnekort in die hof verskyn op aanklagtes van winkeldiefstal, besit van gesteelde eiendom en beskadiging van eiendom.
Kapt Joubert het die lede van die Berede Eenheid geloof vir hul vinnige optrede.
Niemand is beseer nie.




