Meisies wat borste wys soek moeilikheid
‘n Bekende hulp maatskaplike werker van die dorp kon Dinsdagmiddag haar oë nie glo toe sy sien hoe twee jong vroue hulself aan verbygangers ontbloot nie.

Volgens Mona Loubser, van die Ondersteuningsraad, het die twee jong vroue, wat ongeveer 18 of 19 jaar oud is, naby Shoprite Checkers gesit.
“Ek het die twee meisies op ‘n trappie sien sit, maar nie veel ag op hul doen en late geslaan nie,” het Loubser vertel.
“’n Man wat na hulle gestaar het, het eerder my aandag getrek en dit is toé dat ek weer na die meisies kyk.
“Ek kon nie glo toe beide van hulle, hul borste heeltemal ontbloot en op ‘n uitlokkende manier aan die man gewys het nie.
“Ek was geskok, om die minste te sê. Omdat ek, weens die aard van my werk, gereeld te make het met gevalle waar vroue gemolesteer, aangerand en verkrag word, was hierdie voorval vir my ontstellend.
Loubser het die meisies gekonfronteer en verduidelik wat die nagevolge van hul dade kan wees.
“Die een meisie het ‘n uittdagende houding gehad en dit het nie gelyk of my waarskuwing enige impak gemaak het nie,” het sy gesê.
”Die ander een het darem meer berou gehad en jammer gesê.”



