Slange laat mense steeds skrik
Mense se onkunde oor slange lei dikwels tot groot verwarring en selfs onnodige paniek.
’n Inwoner van Brakpan-sentraal het onlangs ’n foto aan die Herald gestuur van ’n slang wat in haar oprit gevind is. Die slang was reeds doodgery en om sekerheid te kry is die slang na ’n persoon geneem om dit uit te ken.
Die inwoner skryf in haar e-pos dat die persoon bevestig het dat dit ’n “baba” groen mamba was.
Die besorgde vrou se e-pos het gekom met ’n waarskuwing dat inwoners hul erwe moet skoon hou en veilig wees.
Die foto was ongelukkig nie baie duidelik nie, maar die bekende slangkenner en inwoner van Brakpan, Shawn Hefer, het dit tog bestudeer.
Hy het verduidelik dat groen mambas glad nie in die binneland voorkom nie en beslis nie in Brakpan nie.
“Tensy jy die see kan sien, ruik of hoor, sal dit nie ’n groen mamba wees nie. Die persoon wat die slang geïdentifiseer het as ’n groen mamba, het dit dalk in onkunde gedoen, maar jaag ook die publiek die vrees op die lyf deur verkeerde identifikasies te gee,” het Hefer gesê.
Die slang op die foto lyk geensins naastenby soos ’n groen mamba nie,” het hy bygevoeg
“Wanneer ’n groen mamba uitbroei is hul ongeveer 350mm tot 450mm in lengte, dun, helder groen van kleur, met skerp langwerpige koppe met ’n ligte- tot geelgroen pens.”
“Dit was wel moeilik om die dooie slang wat in die oprit gevind is, deur middel van die foto te identifiseer, maar gelukkig het die slang ’n baie kenmerkende kleur en liggaamsvorm, Die leser sal moontlik ook kon beaam dat hierdie slang ’n oranje/geel streep reg in die middel van die rug af gehad het.”
“Ek glo dit was ’n Aurora huisslang, wat heeltemal skadeloos, is. Dit word af en toe in tuine en in huise aangetref. Hul voed op baba muise en rotjies, en sal ’n hele nes verorber. Jong Auroras is gewoonlik donkerder in kleur, met swart op die kop,” het Hefer verduidelik.

In nog ’n voorval is Hefer en sy kollegas se hulp weer ingeroep toe ’n slang Maandagoggend by die Verre Oos-Randse Hospitaal aangetref is.
Daar is dadelik aangedui dat die slang, wat in ’n bottel gevang is, ’n rinkhalsslang was.
Dit was inderdaad weereens ’n onskadelike Aurora huisslang en beslis nie ’n rinkhalsslang nie.
“Ek sê beslis nie dat elke slang wat iemand in Brakpan teëkom onskadelik is of ’n Aurora huisslang is nie,” het Hefer bygevoeg.
“Dit is raadsaam om maar altyd versigtig te wees en indien die slang verwyder moet word, eerder professionele hulp in te roep,” hy het bygevoeg.
Lees ook:
Snakebite on pets can be fatal



